Die kritiek bedreigde oewerkonyn kom in dié gebied voor. Foto: CapeNature

Die Doringkloof-natuurreservaat tussen Touwsrivier en Montagu is sedert 14 November een van die land se nuutste provinsiale natuurreservate. Dit is veral goeie nuus vir die kritiek bedreigde oewerkonyn, wat in die gebied voorkom.

Dié bergagtige stuk grond in die Klein Karoo beslaan 209-hektaar en is deel van die groter “Touw Valley Cluster”, wat uit vier natuurreservate in private besit bestaan, in vennootskap met die Endangered Wildlife Trust (EWT) en die CapeNature Biodiversity Stewardship-program.

Dié vier reservate is die Bloutoring-, Kruisrivier-, Machase en nou ook die Doringkloof-natuurreservaat. Volgens ‘n verklaring deur CapeNature is die Bloutoring-, Kruisrivier- en Machase-reservate nog nie formeel as provinsiale natuurreservate verklaar nie. Tesame beslaan dié vier reservate sowat 7 000 hektaar en almal grens aan CapeNature se Anysberg-natuurreservaat.

Die vier natuurreservate skep ‘n bewaringskorridor waar natuurlewe natuurlik in hul habitat kan funksioneer. Foto: CapeNature

Hoewel Doringkloof net meer as 200 hektaar beslaan, lê sy waarde lê daarin dat dit Anysberg met die ander reservate verbind en die bewaringskorridor vergroot, wat wild, natuurlewe en ander ekologiese prosesse die kans gee om op ‘n natuurlike wyse oor die landskap te funksioneer.

CapeNature fasiliteer die wetlike administratiewe proses om die omgewing as ‘n beskermde gebied op grond van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Beskermde gebiede te beheer.

Volgens CapeNature het die span van EWT se Droëlande-bewaringsprogram in September 2021 drie kameras op Doringkloof geplaas. Altesaam 217 foto’s is van diere geneem met ses spesies wat die Afrika-wildekat, die Chacma-bobbejaan, die gewonde duiker, steenbokkies en groter bokke soos die gemsbok en koedoe insluit. Die kamera het nie beelde van die kritiek bedreigde oewerkonyn vasgevang nie. Doringkloof is in dié konyne se verspreidingsgebied geleë. Dit is moontlik dat die konyne wel op die eiendom is, omdat die kameras nie oral geplaas is nie.

Doringkloof se insluiting in die netwerk van provinsiale bewaarde gebiede verseker die Klein Karoo as ‘n biodiversiteit-brandpunt – veral as ‘n skakel tussen Anysberg, Warmwaterbrg en die Langeberg.

Grondeienaars wat dit oorweeg om hul grond formeel te bewaar, kan CapeNature via epos by wcpaes2025@capenature.co.za kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article