KAKAMAS, Noord-Kaap – “Mense wat na die NG kerk toe op pad is, ry asb versigtig. Daar lê ‘n vark in die pothole net ná die spoedwal wat nog vol reënwater is.”
Só laat weet Marie Nel, inwoner van Kakamas, op Sondagoggend 16 November op die Facebook-blad Kakamiete Omgee Groep.

FOTO: Facebook / Gurswin Thomas
Dié sog was al glo voorheen in die dorp met haar kleintjies, en weet waar haar huis is. Haar eienaar sukkel egter om haar op hok te hou. Volgens ‘n plasing op Facebook is dié vark beroemd en geliefd in Kakamas en het sy sedert Sondag tot vele kommentaar bygedra.
“Joh, die speedcops se camouflage raak darem goed deesdae,” sê Pieter du Toit.
Riaan van Wyk sê: “Dis omdat die dorp soos ‘n varkhok lyk wat die vark al daar rond loop.”
Talle stel voor dié vark moet ‘n naam kry, en sommer die dorp se gelukbringer gemaak word.
‘n Ander een skryf: “Die ou varkie treval dorp vol.”
Stanley Grib skryf: “Ooo dis n regte vark. Ek dog julle praat van ‘n politieke party leier.”
Later laat weet Marie Nel: “Hy wil seker bietjie Sondagoggend orrelmusiek gaan luister.”
‘Salarispakket vir vark versoek’
In reaksie op die plasing skryf Igshaan Sulliman, gemeenskapsaktivis van Upington, die volgende op sy Facebook-blad as ‘n “Formele versoek en motivering aan die Kai! Garieb-munisipaliteit”:
Onderwerp: Dringende Samestelling van ‘n Salarispakket vir die Vark, met Inagneming van Gemeenskapsdiens.
Geagte Senior Bestuur en Raad van die Kai! Garieb Munisipaliteit / Kakamas, Noord-Kaap.
Hierdie skrywe dien as ‘n ernstige en formele beroep vir die onmiddellike samestelling van ‘n amptelike salarispakket vir die pos wat tans na verwys word as “die vark.”
Ons versoek dat hierdie aangeleentheid as ‘n mosie van dringendheid op die agenda van die Raad geplaas word vir die laaste Raadsvergadering wat geskeduleer is om plaas te vind voordat die Raad in reses gaan vir die jaar 2025.
Motivering vir Dringendheid en Vergoeding:
Die basis vir hierdie dringende mosie is die onvergoede en waardevolle diens wat gelewer word deur ‘n VARK.
Die individu/entiteit bekend as “die vark” soos aangedui in die foto’s, verrig tans kritieke gemeenskapsfunksies sonder enige amptelike vergoeding:
- Dorp Skoonmaak: Hou die dorp, wat tans as “morsig” en “vuil” beskryf word, skoon.
- Padveiligheid en Identifisering van Slaggate (Potholes): Identifiseer en verlig die risiko van slaggate, wat noodsaaklik is vir die veiligheid van onbewuste toeriste.
Die bydrae tot openbare gesondheid, skoonheid en padveiligheid regverdig die onmiddellike erkenning en formele vergoeding van hierdie diens van die “VARK”.
Vark lei tot digterlike woorde
Louis Jacobus Eksteen het selfs digterlik geraak:
“In Kakamas
Lê ‘n groot vark
Op ‘n Sondag
In ‘n slaggat
Naby die kerk in die pad
Die dorpsmense
Boikot die kerk
Want oor ‘n vark
Kan mens nie ry
Om die ewigheid
Te bereik.”





