Antonis Mandritis, hoë kommissaris van Siprus vir Suider-Afrika, tydens die bekendstelling van die Grieks-Afrikaanse Woordelys. FOTO: Charlotte Drotsky
Antonis Mandritis, hoë kommissaris van Siprus vir Suider-Afrika, tydens die bekendstelling van die Grieks-Afrikaanse Woordelys. FOTO: Charlotte Drotsky

PRETORIA – ‘n Unieke publikasie van ‘n Grieks-Afrikaanse Woordelys is vandeesweek bekendgestel. Dit dokumenteer Afrikaanse woorde wat hul oorsprong regstreeks in die antieke Grieks het.

Dié publikasie wat as ‘n persoonlike taalondersoek begin het, het tot ’n kulturele brug tussen een van die oudste en een van die jongste tale in die Westerse wêreld gegroei.

Dit is deur Antonis Mandritis, hoë kommissaris van Siprus vir Suider-Afrika, in samewerking met die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) saamgestel. Redaksionele bydraes is deur Dirk Taljard, voormalige skakelbeampte van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies), en dit is op 23 Oktober by die Voortrekkermonument in Pretoria deur Affies en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) bekendgestel.

Diplomaat met ’n liefde vir taal

Toe Sy Eksellensie Antonis Mandritis in Oktober 2021 sy amp as hoë kommissaris van Siprus in Suid-Afrika opneem, het hy hom voorgeneem om die streek nie bloot amptelik te leer ken nie, maar kultureel en geestelik te verstaan.

“Ek het kort ná my aankoms ’n Afrikaans-Engels-woordeboek gekoop,” vertel Mandritis. “Terwyl ek die Afrikaanse woorde gelees het, het ek begin opmerk dat sommige van hulle opvallende ooreenkomste met Grieks toon. Dit was vir my soos om in die spore van my eie kultuur te loop, diep binne ’n ander taal.”

Met hierdie ontdekking het Mandritis die hoof van Affies genader om met die versameling en bevestiging van sy bevindings te help. Dirk Taljard, opvoedkundige en historikus, is aangewys om die projek te lei. Hy het die woorde in gesaghebbende bronne soos die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) nagegaan.

Elmarie van Loggerenberg (adjunkhoof, akademiese aangeleenthede by Affies), Antonis Mandritis (hoë kommissaris van Siprus vir Suider-Afrika) en Dirk Taljard (voormalige skakelbeampte van Affies). Foto: Charlotte Drotsky
Elmarie van Loggerenberg (adjunkhoof, akademiese aangeleenthede by Affies), Antonis Mandritis (hoë kommissaris van Siprus vir Suider-Afrika) en Dirk Taljard (voormalige skakelbeampte van Affies). Foto: Charlotte Drotsky

Slegs woorde met ’n direkte oorsprong in Grieks is opgeneem – nie dié wat deur ander tale na Afrikaans oorgedra is nie.

Publikasie verbind gees van twee tale

Die finale publikasie is deur VivA redigeer en digitaal beskikbaar gestel as deel van hul elektroniese woordeboekversameling, met ’n beperkte aantal gedrukte eksemplare. Die FAK het besluit om die projek te ondersteun.

“Afrikaans is een van die jongste Indo-Europese tale, en tog dra sy binne haar die weerklank van eeueoue Griekse denke. Wanneer ons oor taal praat, praat ons oor kultuur, filosofie en denkraamwerk. Uit die Griekse taal het begrippe soos filosofie, politiek en teater ontstaan – woorde wat nie net klanke dra nie, maar die geskiedenis van menslike rede,” sê Mandritis.

Hy sê die ontdekking van die logos – die woord of rede – deur die antieke Grieke, was ’n keerpunt vir die Westerse beskawing.

“Die logos het aanleiding gegee tot logika, en dit het tot die verheerliking van die menslike gees gelei. Die pilare van moderne beskawing is die Grieks-Romeinse kultuur en die Christelike geloof. Selfs die Bybel, in sy Nuwe Testamentiese vorm, is in Grieks geskryf. En so het taal die draer geword van geloof, kultuur en identiteit.”

Afrikaanse resonansie van ’n antieke taal

In sy opmerkings in die publikasie skryf Mandritis oor sy verwondering toe hy ontdek hoe jonk en tog hoe diep Afrikaans in sy Europese erfenis gewortel is.

“Die Afrikaners het die grondslag gelê vir die skepping van instellings met ’n Europese styl in Suider-Afrika, gegrond op twee groot pilare: die Grieks-Romeinse wêreld en die Christendom,” verduidelik hy. “Die verfyndheid van baie geboue in Pretoria weerspieël hierdie neoklassieke erfenis – ’n sigbare verlengstuk van ’n antieke kultuur wat nou hier, in Afrika, voortleef.”

Marlie Coetzee, uitvoerende hoof van die Virtuele Instituut vir Afrikaans, sê dié Grieks-Afrikaanse woordelys sal ‘n groot bydrae tot toekomstige navorsing lewer. Foto: Charlotte Drotsky
Marlie Coetzee, uitvoerende hoof van die Virtuele Instituut vir Afrikaans, sê dié Grieks-Afrikaanse woordelys sal ‘n groot bydrae tot toekomstige navorsing lewer. Foto: Charlotte Drotsky

Van die Triton-beeld van Anton van Wouw tot die argitektuur van Herbert Baker, is daar talle visuele herinneringe aan hierdie Helleense invloed. Hierdie visuele erfenis vind nou sy taalkundige eweknie in die Grieks-Afrikaanse Woordelys – ’n boek wat nie net die oorsprong van woorde dokumenteer nie, maar ’n geskiedenis van idees belig.

Simboliese betekenis

Taljard beskryf die woordelys as “meer as ’n akademiese onderneming.” Volgens hom toon dit dat taal en kultuur voortdurend kruisbestuiwing ondergaan.

“Wanneer ’n taal soos Afrikaans – self ’n kind van verskeie Europese en plaaslike invloede – terugkyk na haar Grieks-Romeinse wortels, herinner dit ons daaraan dat geen taal in isolasie bestaan nie,” sê Taljard.

“As jy besef dat woorde soos logika, demokrasie of filosofie oorspronklik Grieks is, verstaan jy ook dat taal die draer van beskawing is,” voeg Taljard by. “Ons kan nie net Afrikaans beskerm nie – ons moet dit verdiep.”

“Dié Grieks-Afrikaanse Woordelys wys vir ons dat taal nie net uit woorde bestaan nie, maar uit waardes en herinneringe,” sê Dawid Brand, bedryfshoof van media, bemarking en toerisme by die Kultuurtuiste van FAK.

LEES OOK: Noord-Kaap se Katrina Esau wil die N|uu-taal lewend hou

As diplomaat het Mandritis in lande soos China, Mexiko en Israel gedien, maar in Suid-Afrika het hy iets uniek ontdek: ’n volk wat sy Europese erfenis met Afrika se gees verbind.

Die verbindingslyn tussen Grieks en Afrikaans is nie bloot linguisties nie, dit is filosofies, geestelik en histories. Dis ’n herinnering dat beskawings mekaar verryk, kulture mekaar vind, en taal die brug vir idees bly.

“Die bekendstelling van die Grieks-Afrikaanse Woordelys is ’n viering van die menslike gees se vermoë om te verbind. Hierdie projek bring die wysheid van die antieke wêreld en die lewenslus van die moderne Suid-Afrikaanse kultuur saam,” sê Mandritis.

Die woordelys sal voortaan as deel van VivA se digitale versameling beskikbaar wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article