Rowers het Sondag (12 Oktober) in die vroeë oggendure ‘n paar mense oorrompel wat gekuier het by ‘n gasteplaas in Franschhoek.
Kol. Frederick Rossouw, stasiebevelvoerder by die Franschhoek-polisie, het die insident bevestig. Hy sê daar was ook ‘n insident Saterdagaand (11 Oktober) toe rowers by ‘n ander perseel probeer in breek het.
“Ons kan bevestig daar was ‘n voorval in die oggendure (12 Oktober). Ek wil net benadruk dat die insident van Sondagnag ‘n huisroof is. Hoewel die roof op ‘n plaas gebeur het is daar ‘n groot verskil tussen ‘n huisroof en ‘n plaasaanval.
“Dit was weer gaste wat gekuier het op ‘n plaas wat gasteverhuring doen. Dit wil sê dit is ‘n besigheid. Dit is nie meer ‘n plaas wat bedryf word nie. Daar was ook ‘n poging tot huisbraak. Die gepoogde huisbraak het voor 00:00 gisteraand (11 Oktober) gebeur.”
LEES OOK: Rowers slaan toe op Franschhoek-gasteplaas
Rossouw het nie verder uitgebrei rondom die goedere wat gesteel is nie. Hy voeg ook by: “Op die stadium kan geen beskrywings van die verdagtes bekend gemaak word nie”.
Niemand is in die stadium in hegtenis geneem nie.
Paarl Post berig reeds die afgelope paar maande rondom gastehuise binne die Franschhoek dorpsgebied wat gebuk gaan onder rowers wat toeslaan.
LEES OOK: Franschhoek: Gasteplaas betwis bewerings van polisievertraging





