Leané Hattingh – Pionier­skool vir Blindes

Vir my, as ‘n blinde mens, is daar verskeie apps beskikbaar, wat die lewe vir gestremdes met behulp van kunsmatige intelligensie vergemaklik. Ek het drie hulpmiddels wat ek gereeld gebruik.
Die eerste is PiccyBot. Dit is ‘n toepassing wat enige foto of video in woorde omskryf – tot in die fynste detail. Jy kan ‘n foto of video in die toepassing neem of jy kan uit die video’s of foto’s wat jy op jou foon het, kies. Jy kan ook vir PiccyBot vra om op iets spesifiek in die foto of video te fokus, byvoorbeeld “Wat is die kleur van hierdie hemp?” of “Watter een van hierdie pakke is die sout-en-asyn-skyfies?”

Die volgende hulpmiddel wat ek gebruik, is WhatsApp se geïntegreerde assistent, Meta AI. Hierdie hulpmiddel kan nou danksy onlangse opdate­rings ook foto’s beskryf. Enige foto wat jy deur WhatsApp ontvang het, kan aangestuur word na Meta AI en ‘n beskrywing van die foto word opgestel. Dit is gewis ‘n vinniger opsie as PiccyBot vir wanneer jy gou ‘n foto wil aanstuur of daarop wil reageer.
Die derde hulpmiddel wat ek ge­bruik sal seker geen verras­sing wees nie, aangesien amper almal vandag – blind of nie blind nie – hiervan gebruik maak. Ek praat natuurlik van ChatGPT! Iets wat my nogal baie help en wat ChatGPT kan doen, is dat jy dit kan vra om vir jou ‘n karakter van ‘n rolprent of televisie-reeks of ander beroemde te beskryf, sowel as enige uitrustings wat hulle al aangehad het.

Dit is nogal handig vir wanneer jy wil weet hoe iemand werklik lyk en ook natuurlik as jy nuus­kierig was oor wat presies ‘n beroemde op die rooitapyt by ‘n prysuitdeling gedra het. KI het nou wel sy nadele en dinge om oor bekommerd te wees, maar geen twyfel bestaan dat dit gewis ‘n waardevolle hulpmiddel vir ge­stremdes kan wees nie.

  • Leané Hattingh is ‘n leerder aan die Pionierskool vir Blindes in Worcester.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article