Die Afrikaanse Taalmonument (ATM) en Afrikaanse Taalmuseum vier vanjaar hul 50ste bestaansjaar – ‘n merkwaardige mylpaal wat saam met Afrikaans as amptelike taal se 100 jaar verjaardag val.
Feesprogram
Die ATM het ‘n stampvol feesprogram om hierdie halfeeu te vier.
- 2 Oktober: Na ’n paar jaar se onderbreking keer die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se gewilde skoolkoorfees terug na die Paarlberg. Donderdag 2 Oktober sal nege kore van agt skole die amfiteater met koorklanke vul – amper vyf dekades nadat die monument self op 10 Oktober 1975 in dieselfde teater met koormusiek ingewy is. Hekke open om 17:00 en die koorsang begin om 18:00. Toegang beloop R120 per volwassene en R80 per leerder.
- 10 Oktober: ’n Gratis 8km #50Pretstap vind op 10 Oktober plaas vanaf die Taalmuseum in Pastorielaan 11 tot by die Taalmonument. Deelnemers kan enige plek by die roete aansluit en saam stap ter ere van die mense en mylpale wat deur die jare tot die groei van Afrikaans bygedra het. Langs die pad wag musiek, poësie, lesings en verrassings wat die rykdom en veelsydigheid van die taal beklemtoon. Vir meer inligting hieroor besoek die ATM se webtusite.
- 11 Oktober: ‘n Dans word in die Paarl-stadsaal gehou waar die Five Stars-orkes, begelei deur Chadleigh Gowar musiek sal verskaf. Kaartjies beloop R150 per persoon en is beskikbaar by Quicket of by Pastorielaan 11 in die Paarl. Die deure open om 18:00 en die orkes begin om 19:00. Die laaste dans is om 23:00.
- 15 Oktober: Op 15 Oktober om 10:30 in Stellenbosch tydens die Woordfees word die publiek genooi om saam te debatteer oor die rol van die ATM in ’n veranderende en dikwels verdeelde Afrikaanse en Suid-Afrikaanse gemeenskap. Gespreksleier Jean Meiring gesels met Michael Jonas (direkteur), Theo Kemp (Jake Gerwel-stigting) en Catherine Snel (voormalige kurator). Die gesprek kan gratis bygewoon word.
- 25 Oktober: ‘n Moewiese makiete kom na die Paarl toe! Afrikaans Amptelik 100 sluit sy feesvieringe af met ‘n makiete by die ATM. Daar is optredes deur rieldansers, volkspele-groepe, en verskeie kunstenaars is. Daar is ook eet- en drinkgoed te koop. Kaartjies beloop R60 vir volwassenes en is gratis vir laerskoolleerders.
- 15 November: Sluit aan by die ATM se 50ste bestaansjaarbal by die Nelson-wynlandgoed buite die Paarl. Kaartjies beloop R800 per persoon of R8 000 per tafel van 10.
- 29 November: Musiekliefhebbers kan uitsien na ‘n Piekniek met die Sterre-konsert met bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars. Hou die Taalmonument se sosiale media blaai dop vir meer hieroor.
- 10 Desember: Op 10 Desember, wat ook die laaste item op die feesprogram vir 2025 is, vind ‘n aandwedloop plaas. Meer inligting sal binnekort daaroor bekendgemaak word.
Besoek die ATM se feesbylaag hier.

Geskiedenis
Die ATM is van Drakenstein se mees geskiedkundige geboue en is op 10 Oktober 1975 tot stand gebring en is deur die argitek Jan van Wijk ontwerp en deur die konstruksiefirma Murray & Stewart van Kaapstad saam met Holtzhausen en Hugo, bouers van die Paarl, opgerig
“Die gedagte daaraan om ’n monument vir Afrikaans op te rig, het in die jare veertig by ’n klein groepie begeesterde mense ontstaan. Die eerste denkbeeldige sooi is op 26 September 1942 gespit met die stigting van ’n komitee om geld vir hierdie doel in te samel. Toe in die jare sestig besluit is om met die bou van die monument voort te gaan, was daar reeds ’n stewige neseier en het die insameling momentum gekry,” volgens ’n boek wat Van Wijk geskryf het en in 2014 gepubliseer is.
Volgens Van Wijk se boek is die ATM van Januarie 1972 tot Desember 1974 met ’n boukoste van R718 058,97 gebou.
Simboliek
Die ATM verteenwoordig volgens die ATM se webtuiste “die diversiteit, groei en ontstaan van Afrikaans”.
“Die oorsprong van Afrikaans lê oor drie kontinente versprei, naamlik Europa, die Ooste en natuurlik Afrika – en dit is wat deur hierdie monument uitgebeeld word. Die suile aan die linkerkant van die monument verteenwoordig die invloed van die Wes-Europese tale en kulture op die ontwikkeling van Afrikaans, waaronder Nederlands, Duits, Frans en Portugees. Die suile loop van hoog na laag om die verminderende Europese invloed op Afrikaans uit te beeld. Die hoogste van die drie is ongeveer 13,5 m,” volgens die webtuiste.
“Die muur op die trap-aantrede van die monument stel die invloed van Indonesiese tale (hoofsaaklik Maleis) op die ontwikkeling van Afrikaans voor. Aangesien Maleis van die Ooste is, is die muur só tussen die kurwes van Wes-Europa en Afrika geplaas dat dit apart staan. Tog vorm dit ’n eenheid met die twee kragte van Wes-Europa en Afrika wat saamsmelt om die brug te vorm wat dan simbolies die basis – die wortels – van Afrikaans uitbeeld.
“Die koepels beeld die invloed van Afrika-tale, onder meer Khoikhoi, Xhosa, Zoeloe en Sesotho, op die ontwikkeling van Afrikaans uit. Die koepels neem in grootte toe omdat Afrika-tale se invloed op Afrikaans toeneem”, luidens die webtuiste.
“NP Van Wyk Louw, die een skrywer deur wie Van Wijk met die bou van die monument geïnspireer is, het geskryf Afrikaans staan met sy een voet in Afrika en met die ander voet in Europa, menende dat die taal sy oorsprong in albei vastelande het. Hy beskryf Afrikaans as ’n brug tussen die tale van Europa en Afrika.”
Hierdie stelling is simbolies van die kurwes van die ATM wat bymekaarkom om ’n brug te vorm.






You must be logged in to post a comment.