Inwoners in Somersetpark in Worcester het hul kommer oor ‘n beoogde residensiële ontwikkeling in hul woonbuurt uitgespreek.
Volgens kennisgewings wat aan inwoners uitgereik is, word 30 erwe vir bekostigbare behuising oorkant Maitlandstraat uitgesit. Dit is in die oop deel tussen die woonbuurt en die N1-snelweg.
Die erwe is sowat 400 m² groot en inwoners sê dat die gemiddelde erwe in die woonbuurt aansienlik groter is. Hulle is bekommerd dat dit ‘n effek op hul eiendomswaardes kan hê.
Die omgewingsimpakstudies is reeds gedoen en daar is vergaderings met inwoners oor die ontwikkeling gehou. Al die inwoners het blykbaar nie kennisgewings ontvang nie.
Die deel wat ontwikkel gaan word, is volgens een inwoner ‘n ekologies sensitiewe gebied omdat daar ‘n waterstroom deurloop wat van die Worcesterdam onderdeur die pad verby die woonbuurt kronkel voor dit later by die Breërivier aansluit.
Kommer dat die erwe naby aan die stroom die risiko loop om te oorstroom, is ook geopper. Die munisipaliteit het glo in vergaderings aange- dui dat die sloot dieper gemaak sal word om die risiko te verminder.
Volgens die inwoner is daar reeds sowat drie hektaar se veld geskraap en plantegroei is verwyder. Hy het vrae oor bedreigde fynbos wat moontlik in hierdie deel groei.
“Moes die munisipaliteit nie magtiging gehad het om van hierdie plantegroei te verwyder nie?” wou hy weet.
Hoe dié ontwikkeling die verkeer gaan beïnvloed, is ook een van die kwellinge.
Standard Breederivier Gazette het vrae hieroor aan die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) gerig.
In terugvoering is egter aangedui dat die munisipaliteit nie die saak met die media kan bespreek nie.
BVM het wel bevestig dat ‘n aansoek om stadsbeplanning tans in proses is. ‘n Advertensie hieroor is op 4 September in dié koerant gepubliseer. Die aansoek is beskikbaar vir inspeksie en openbare kommentaar kan by die stadsbeplanningskantoor op die derde vloer van die munisipale gebou in Worcester ingedien word.
BVM sê inwoners kan Karen Fouche by 023 348 2622, kfouche@bvm.gov.za of planning@bvm.gov.za kontak met enige navrae. Die sluitingsdatum vir kommentaar is 6 Oktober.
BVM sê ook diegene met kommer oor die ontwikkeling en die omgewingsimpakstudie kan die relevante owerhede kontak. Die kontakpersoon wat BVM verskaf, is Marius Venter, die adjunkdirekteur vir omgewing en beplanningsappèl by die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning in Kaapstad. Geen verdere kontakbesonderhede is verskaf nie.





