Die jongspan wat betrokke is by Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het die geleentheid geniet saam die honderde ander mense wat teenwoordig was. Foto: Chantélle Hartebeest

Boere van oor die land heen het Erfenisdag jolig by die Lamb Champs Boland 2025 gevier wat by die Hoër Landbouskool Boland in die Paarl aangebied is.

Dit is die heel eerste Lamb Champs wat in die Wes-Kaap aangebied is en 75 boere het meegeding in die vierde kwalifiserende ronde van dié geleentheid. Lamb Champs word beskryf as Suid-Afrika se enigste nasionale kompetisie wat die lekkerste lam in die land bekroon.

Boere het kop aan kop meegeding met hul beste lammers, wat deur ’n paneel op smaak, tekstuur en aanbieding beoordeel is. Suider Afrika Agri Inisiatief (Saai), wat aan die stuur is van die saamstel van die geleentheid, meen dit is meer as net ‘n kompetisie – dit verbind familieboere met verbruikers, wys die verskeidenheid van Suid-Afrika se lamsrasse uit en vier die erfenis van familieboerdery.

Louis Botha van Cradock in die Oos-Kaap is as die wenner van die Lamb Champs Boland 2025 gekroon. Hy het die beoordelaars beïndruk met sy uitsonderlike meatmaster-ras-lam. Botha stap weg met ‘n kontantprys van R40 000 en ‘n unieke trofee wat geskep is deur die bekende kunstenaar Nic van Rensburg.

In die tweede plek is Nollie Stofberg van Fraserburg in die Noord-Kaap, ook met ‘n meatmaster-ras-lam. Stofberg het R20 000 in kontant ontvang. In die derde plek is Loffie en Micheal Smuts met ‘n dormer-lam. Die Smuts is van Moorreesburg in die Wes-Kaap en het weggestap met R10 000.

Daar was ook geskiedenis gemaak by dié geleentheid toe ‘n dorper-kruis-lam vir R75 000 opgeveil is aan Kalahari Cuts. Die lam het aan Pieter Cilliers van Philippolis in die Vrystaat behoort. Die vorige rekord wat opgestel is, is R63 000 by die Royal-skou in Pietermaritzburg. Die karkas is in premiumsnitte verwerk, verpak en sal nou deel vorm van Kalahari Cuts se bekende produkreeks.

‘n Mamma en haar dogters geniet lekker speeltyd saam. Foto: Chantélle Hartebeest

“Hierdie rekord is steeds ver van wat mense bereid is om vir premium-wyne te betaal, maar dit wys die groeiende erkenning van lam as ’n premium-produk en die krag van Lamb Champs om dit te verhoog,” sê Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, het benadruk: “Elke Lamb Champs-geleentheid is daarop gemik om die winsgewendheid van familieboerdery te verbeter omdat dit die grootste bedreiging is vir die voortbestaan van klein- en mediumskaalse boerderye in Suid-Afrika.”

“Lamb Champs het lamproeë tot ’n kuns verhef, vergelykbaar met wynproeë, en daarmee die skakel tussen verbruikers en die grond herstel,” voeg Rossouw by.

In ‘n verklaring van Saai word dit duidelik gemaak dat alle winste uit die veiling, en die verkoop van Lamb Champs-gemerkte lamsvleis in Pick n Pay-winkels, direk na familieboere gaan.

Die geleentheid het ietsie vir die hele familie voorgesit – verskeie stalletjies, springkastele en selfs optredes deur kunstenaars soos Chris Steyn, Blackbyrd, Juan Boucher, Die Piesangskille en Die Beste Band.

Botha sal op 17 Oktober nou in die Lamb Champs 2025 se nasionale eindronde by NAMPO Alfa in Bothaville in die Vrystaat meeding.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article