Woensdag 11 Desember 2024 sal ‘n dag wees wat Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, nooit sal vergeet nie.
Weslander het destyds vertroulik verneem dat Van Rooy deur die Piketberg-polisiekantoor ondervra is oor klagtes van dwelmhandel en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie. Hy is egter nou, nege maande later in September vrygespreek van alle klagtes en die saak is teruggetrek.
Koos Steyn, voorsitter van die Demokratiese Alliansie (DA) Wes-streek het in ‘n persverklaring gesê die DA vier die terugtrek van die saak, te midde van forensiese laboratoriumbewyse wat toon dat daar niks teen Van Rooy was nie. Steyn meen dit was “ ’n desperate en kwaadwillige poging om ‘n goeie, hardwerkende burgemeester te ondermyn, sy burgemeesterskap te verwyder en sy reputasie te beswadder”.
Volgens Van Rooy was dit destyds ‘n donker dag. “Die dag toe die polisie optrek, het dit gevoel my wêreld val inmekaar, maar ek het geweet daar is ‘n lewende God en dat Hy die waarheid ken en dat die waarheid sal seëvier. Dit was ‘n moeilike tydperk vir ons as gesin. Daar was dae wat ons nie geweet het of ons kom of gaan nie, maar ek het vir my vrou en kinders gesê dat ons ons koppe moet hoog hou, want ons het niks verkeerd gedoen nie. Ons het deur alles biddend gebly.”
Steyn voeg by hoewel Van Rooy vrygespreek is en die aanklagte laat vaar is, het pogings om die burgemeester te intimideer, nie opgehou nie. Die afgelope twee weke het Van Rooy selfs doodsdreigemente gekry en mense het drie keer probeer om by sy huis in te breek.
“Ons is bly die polisie het sedertdien ‘n ondersoek hierna van stapel gestuur.”
Met sy gesin wat in vrees lewe, meen Van Rooy hy staan vas in geloof en gaan hom nie laat initmideer nie. Een van sy dogters lewe egter in vrees. Sy het gesê: “Die aanval het nie net ‘n burgemeester geteiken nie, maar sy hele gesin. Ek is trots op my pa . . . hy het nooit opgehou om sy gemeenskap te dien nie – selfs toe sy naam deur die modder gesleep is.”
Van Rooy is dankbaar vir die bemoedigende boodskappe, gebede en vertroue in sy onskuld.





