‘n Bedanking moenie ‘n manier wees om verantwoordelikheid en aanspreeklikheid vry te spring nie.

Só meen die opposisie in die Stellenbosse munisipale raad nadat Alexander Kannemeyer, ‘n voormalige waarnemende direkteur van korporatiewe dienste en senior menslikehulpbronnebeampte van die munisipaliteit, uit die pos bedank het.

Die bedanking volg nadat die munisipale raad op Vrydag 5 September ‘n mosie aanvaar het vir Kannemeyer om redes te verskaf hoekom hy nie geskors moet word nie en ‘n onafhanklike ondersoek na sy gedrag in te stel. Die besluit volg nadat beeldmateriaal van 2023 die lig gesien het waarin Kannemeyer beweerde rassistiese uitlatings teenoor wit mans gemaak het.

‘n Herrie oor Kannemeyer se aanmerkings het losgebars en die DA, sowel as GOOD, het mosies ter tafel gelê vir ‘n ondersoek na die beampte se gedrag. Kannemeyer het nou, nadat hy sy skriftelike antwoord aan die munisipale raad op Vrydag 12 September moes bied, egter bedank.

GOOD, by monde van die raadslid Robin Hendrikse, meen Kannemeyer se bedanking as waarnemende direkteur is slegs ‘n manier om die gevolge van sy optrede in die video te vermy.

Hulle meen die onafhanklike ondersoek na Kannemeyer moet steeds van stapel gestuur word.

Die VF+ het ook sy ontevredenheid uitgespreek dat Kannemeyer steeds die senior bestuurder van menslike hulpbronne by die munisipaliteit is.

“Dit is skokkend en onaanvaarbaar dat die munisipaliteit, gegewe die ernstige klagte teen mnr. Kannemeyer asook die beskikbare bewyse en getuienis van mense wat reeds oor die situasie na vore gekom het, hom nie summier geskors het hangende die ondersoek nie,” het die raadslid JC MacFarlane gesê.

Eikestadnuus het navrae aan die Stellenbosch-munisipaliteit oor Kannemeyer se bedanking en die voorgestelde ondersoek gerig, maar teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article