Oud, maar nog lank nie koud nie.
Die New Cape Central Railway Company (NCCR), wat stoomtreine in Robertson bedryf, het vandeesweek vyf nuwe lokomotiewe by hul vloot gevoeg.
Dié nuus kom in die week dat Erfenisdag gevier word.
“Die lokomotiewe is deel van ons kulturele erfenis. In Erfenismaand reflekteer ons juis oor hoe ons gekom het waar ons is en ons wil iets doen om hierdie erfenis te bewaar vir geslagte wat nog kom,” het Dan Marokane, groep- uitvoerende hoof van Eskom, by die oorhandiging gesê.
Dié Hunslet-lokomotiewe word vir vyf jaar by Eskom gehuur nadat dit by die Rosherville-kragsentrale gebruik is om steenkool te vervoer. Eskom het ná ‘n tenderproses, wat in Mei verlede jaar begin het, en beraadslaging met die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbron-agentskap (SAEHA) en ander organisasies, besluit om die lokomotiewe aan NCCR toe te vertrou.

Die vyf Hunslet-stoomlokomotiewe is vroeër jare by Eskom se Rosherville-kragsentrale gebruik om steenkool te vervoer en moes nou ‘n nuwe tuiste kry.
Een van die lokomotiewe, Kitson, het ‘n mooi storie om te vertel. Dié kragreus het sedert 1879 diens gedoen en die merkwaardige mylpaal in 1979 gehaal om die eerste stoomlokomotief in die land te wees wat ‘n volle eeu in gebruik is. Gepraat van gebou om te hou! Dié lokomotief is in 1983 as nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Die NCCR gaan die lokomotiewe by hul depot in Pretoria restoureer, waarna hulle op ‘n sirkelroete by die historiese myndorp Cullinan gaan diens doen.
Derick du Toit, die besturende direkteur van die NCCR, het by die oorhandiging gesê: “Ons glo dat ons van hierdie lokomotiewe weer aan die werk sal kan kry – dan kan ons kinders ook eendag daarop ry.” Die lokomotiewe wat nie weer kan werk nie, sal wel gerestoureer word.
NCCR se roete van Robertson af lewer ‘n groot bydrae om toeriste na die omgewing te lok en die stoomtrein, wat se rookbolle dikwels langs die pad tussen Robertson en Worcester gesien kan word, bring so stukkie ou-wêreldse geskiedenis na die hede.






You must be logged in to post a comment.