Die VF Plus het Dinsdag geëis dat die Noordwes Universiteit (NWU) standpunt moet inneem nadat lede van die Economic Freedom Fighters (EFF) die omstrede "Kill the Boer"-lied openlik op die Potchefstroom-kampus gesing het tydens 'n optog.
VF Plus eis optrede van NWU na die sing van “Kill the Boer” deur die EFF op kampus.


POTCHEFSTROOM – Die VF Plus het Dinsdag geëis dat die Noordwes Universiteit (NWU) standpunt moet inneem nadat lede van die Economic Freedom Fighters (EFF) die omstrede “Kill the Boer”-lied openlik op die Potchefstroom-kampus gesing het tydens ‘n optog.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus LP en hoofwoordvoerder van onderwys, het in ‘n mediaverklaring gesê die party voeg sy stem by diegene wat verwag dat die universiteit moet optree, ten spyte daarvan dat die EFF se optog “klaarblyklik veel kleiner was as wat in vooruitsig gestel is.”

Die lied, wat onlangs as haatspraak verklaar is, is luidkeels gesing terwyl EFF-lede AfriForum as ‘n “regse terroriste-organisasie” bestempel het, aldus Boshoff.

Die VF Plus het ‘n skerp kontras getrek tussen die universiteit se huidige stilswye en die reaksie op ‘n 2014-voorval toe studente beskuldig is van ‘n “Nazi-saluut” tydens ‘n kampusgebeure.

“Indien hierdie optrede vergelyk word met die openbare uitbarsting oor ‘n gewaande Nazi-saluut in 2014, is die kontras skreiend,” het Boshoff gesê.

Hy het verwys na die destydse media-aandag, veral van Naspers-koerante onder leiding van Beeld se destydse redakteur Adriaan Basson, wat die kritiek teen die universiteit gelei het.

LEES OOK: Julius Malema found guilty of hate speech by Western Cape Equality Court

Die direkteur-generaal van hoër onderwys, Gwebs Qonde, het destyds aangedring dat die universiteit moet optree eerder as verduidelik, het Boshoff onthou.

Volgens Boshoff het latere ondersoek getoon dat die 2014-saluut, wat studente geensins met Nasionaal-Sosialisme verbind het nie, reeds beëindig was voordat berigte daaroor verskyn het, nadat die destydse kampusrektor prof. Herman van Schalkwyk studente op die sensitiwiteit daarvan gewys het.

“Indien die geskiedenis in ag geneem word, rus ‘n dure las op die NWU om self teen gister se EFF-optog standpunt in te neem,” het hy gesê.

Die VF Plus het daarop gewys dat selfs die departement van hoër onderwys nie nou agter akademiese vryheid kan skuil as dit in 2014 nie van belang was nie.

Boshoff het beklemtoon dat in die huidige politieke klimaat ‘n universiteit teen sulke optrede standpunt moet inneem, “selfs al ag die grondwetlike hof dit nie as haatspraak nie.”

Die NWU het ten tyde van publikasie nog nie op versoeke om kommentaar gereageer nie.

Die “Kill the Boer”-lied het in onlangse maande tot hewige debat gelei oor haatspraak en die grense van vryheid van uitdrukking in Suid-Afrika.

NWU woordvoerder Louis Jacobs het by navraag gesê dat die optog is soos enige ander optog op kampus hanteer nadat formeel aansoek gedoen was en dit goedgekeur is.

“Daar is ‘n memorandum oorhandig en dit sal via die normale kanale hanteer word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article