Worcester Standard & Breederivier Gazette

‘Net die klere aan ons lywe’ – huisbrand vernietig gesinne se wonings

Gailan Page kyk hoe opruimingswerk gedoen word waar hul huis eens gestaan het.

Drie gesinne van Worcester het al hul klere en huisraad verloor nadat ‘n brand hul wonings in Roodewal die afgelope Vrydagnag (15 Augustus) in puin gelê het. ‘n Huis en drie wendyhuise op ‘n aangrensende erf het in die slag gebly nadat ‘n brand kort ná middernag in Hartwiglaan ontstaan het.

“Al waaraan ek kon dink, was om my skooltas en ons selfone te gryp,” het die 17-jarige Gailan Page, ‘n leerder aan die Hoërskool Worcester Gimnasium gesê. Sy is die burgemeester van Worcester se junior stadsraad.

“Ek het wakker geword van ‘n klapgeluid en gesien dit brand by die bure. My pa, Gavin, werk nagskof. Ek het my ma, Elrese, wakker gemaak en ons het probeer om die bure te help om die vlamme te blus. Toe ons sien die vuur is reg teen die grensmuur naby ons huis, het my ma my broers wakker gemaak en uit die huis gekry. Ek het ‘n gordyn afgepluk om te keer dat dit aan die brand slaan, toe bars die venster.”

Gailan Page en haar buurvrou, Elsabe Moyo.

Page het haar skooltas en ‘n sportsak vir die interskole wat die volgende dag in Hermanus sou wees, gegryp en uit die huis gevlug. “Ek het na my ma se kamer gehardloop om die selfone te kry.”

Bure en ander hulp het blitsig naderge­staan en die brandweer was ook gou daar.

Elsabe Moyo, haar 17-jarige seun, Thabo, en Joyce en Dalian Williams het niks oor- gehou van hul besittings wat in die wendyhuise was waar hulle gewoon het nie. Hulle het twee dogtertjies, Mia (2) en Zoë (3). “Ek staan vandag hier met geleende klere aan my lyf en dit is al wat ek het. Ons slaap danksy die genade van weldoe-

ners by ‘n huis hier oorkant, maar ons weet nie wat ons pad vorentoe gaan wees nie. Ons het niks oor nie,” het Elsabe gesê.

Page se ouma woon in ‘n huis voor op die erf en die gesin woon nou tydelik by haar. Hul ouerige swart Labrador is sedert die brand weg.

Opruimingswerk was gou op dreef om die verbrande oorblyfsels van die wonings te verwyder.

John Bulani, ‘n woordvoerder vir die Breedevallei-munisipaliteit, het gesê drie brandweervoertuie en een noodvoertuig is uitgestuur. “Die brandbestryders het met hul aankoms onmiddellik begin om die vuur te blus om te verhoed dat dit verder versprei. Niemand is beseer nie.” het hy gesê. “Die saak is aan die polisie oorhandig om die oorsaak van die brand te ondersoek.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article