FRANSCHHOEK – Die Franschhoek-polisie sê hy het vyf verdagtes in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n man van Groendal die afgelope Sondag (3 Augustus).
Austin Stevens (28) is glo deur ‘n groep mans ná ‘n onderonsie met messe en pangas aangerand en het by die ingang van sy meisie, Gevileen Dawuwa (23), se ouerhuis aan sy wonde beswyk.
Die voorval het kort ná 15:00 Sondagmiddag plaasgevind.
Volgens wat Dawuwa Maandag aan Paarl Post vertel het, het die groep mans, wat vermoedelik aan die Wrong Turns-bendegroep behoort, ook met haar broer, Dian Dawuwa, slaags geraak.
Sy vertel dat Stevens, met wie sy vir meer as twee jaar in ‘n verhouding was, glo deur een van die vermeende bendelede op die hoek van hul straat gekonfronteer is.
‘n Stryery, wat toe in ‘n bakleiery ontaard, het tussen die twee uitgebreek.
Die vermeende bendelid het volgens haar toe sy vriende gaan haal waarna Stevens so erg aangerand is dat dit tot sy dood gelei het.

Sy vertel dat Stevens daarin kon slaag om by haar ouers se erf, waar hy gewoon het, te hardloop.
“Hy het nog gelewe. Iemand het gehelp om die bloed te stop totdat die ambulans gekom het,” vertel sy.
Stevens is egter met paramedici se aankoms dood verklaar.
Dawuwa het erken dat Stevens ook deel was van ‘n groepering in die area, maar dat hy nooit by geweld betrokke was nie.
Stevens is oorspronklik van Kraaifontein waar meeste van sy familie glo woon.
Dawuwa se pa, Rudolf, sê die familie sal graag wil sien dat geregtigheid geskied.
“Dit is nie die eerste voorval nie. Hierdie groep kom gereeld weg met hierdie tipe dinge.
“Die polisie kry hulle nooit in die hande nie en daarom doen hulle net wat hulle wil.”
Hy sê een van die vermeende bendelede het glo gedreig het hy [die pa] “volgende is”.

Lt. kol. Frederick Rossouw, stasiebevelvoerder van die Franschhoek-polisie, het navraag bevestig dat ‘n moordsaak ondersoek word.
“Een persoon is Sondag inhegtenis geneem en nog vier Maandag (4 Augustus). Al vyf verdagtes word tans deur die polisie ondervra,” sê Rossouw.
Dit is die tweede mesaanval in Groendal in minder as ‘n maand.
Paarl Post het op 7 Julie berig oor ‘n 17-jarige seun wat in hegtenis geneem is nadat hy glo ‘n 21-jarige man doodgesteek het.
LEES: Minderjarige (17) in hegtenis geneem in Groendal weens moord
Hierdie voorval het ook op ‘n Sondag plaasgevind.






You must be logged in to post a comment.