Die Wes-Kaapse onderwys departement het ‘n skokkende toename in inbrake en vandalisme by skole tydens die Julie-vakansie gerapporteer, met verliese van meer as R1 miljoen.
Minister van Onderwys David Maynier het bekendgemaak dat 57 inbraak insidenete by 46 skole aangemeld is tydens die Junie/Julie vakansietyd. Dit is ‘n beduidende toename in vergelyking met verlede jaar in dieselfde tydperk, toe 45 insidente plaasgevind het by 39 skole.
Ten spyte daarvan dat die departement vakansiebeveiliging by 424 hoërisiko skole gesubsidieer het, kon die toename in misdaad nie verhoed word nie.
Die misdadigers het dit veral op boumateriaal, heining, elektriese bedrading, koskombuis-toerusting vir skoolmaaltyeskeemas, sportuitrusting, rekenaars en ander elektriese toerusting, loodgieterwerk en verskeie skoolbenodigdhede gemunt.
“Die geskatte koste om beskadigde en gesteelde items te herstel of te vervang is meer as R1 miljoen, wat onaanvaarbaar is in die moeilike finansiële omstandighede waarin die sektor tans verkeer,” het Maynier gesê.
Hy het beklemtoon dat befondsing nou van opvoedkundige aktiwiteite weggelei sal moet word as gevolg van die selfsugtige optrede van misdadigers.
Oproep tot gemeenskaphulp
Wes-Kaapse minister van polisie-toesig en gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, het ook kommer uitgespreek oor die toename in kriminele aktiwiteit.
“Om van ons skole te steel is om van ons kinders te steel, en ons doen ‘n beroep op enige lid van die publiek met inligting oor hierdie misdade om onmiddellik vorentoe te kom,” het Marais gesê.
Sy het verder die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemoedig om ondersoeke na misdade in en rondom skole te prioritiseer.
Die departement het ‘n dringende beroep op die publiek gedoen om ‘n wakende oog oor hulle plaaslike skole te hou en enige verdagte aktiwiteit onmiddellik by die polisie aan te meld.
Vinnige rapportering kan ‘n groot verskil maak in die arrestasie van oortreders en die terugkry van gesteelde goedere, het die Maynier gesê.
Die name en liggings van die geaffekteerde skole word om veiligheidsredes nie bekendgemaak nie.





