Zazon United is vanjaar se wenners van die opwindende Big Bash-vlakkiekrieket-toernooi, wat deur Hartwig Lions van Worcester aangebied is.
Die eindwedstryd is tussen Zazon en Quickies gespeel, waar Zazon met 28 lopies gewen het.
Edwill January van Zazon, die span van Hexpark in Worcester, is as die beste bouler van die toernooi aangewys, terwyl Enrico Flando as die beste kolwer vereer is.
Die speler van die toernooi was Edward Flando, ’n gestremde speler van Taranankie van Roodewal (ook in Worcester) se vlakkiekrieketklub.
Sy veldwerk was puik en hy het menige kolwer óf uitgehardloop óf uitgevang – en dít met slegs een arm en hand.
Selfs Flando se kolfwerk spreek boekdele en hy het vir geen bouler teruggestaan nie.
Elkeen het ’n prys gewen asook ’n blyk van waardering van die Hartwig Lions-vlakkiekrieketklub ontvang om erkenning aan die goeie prestasies te gee.



