Villa se nuweling-slot, Mohammad Diedericks, gaan sommer in die eerste minuut vir Villa se openingsdrie oor in verlede Saterdag (9 Augustus) se wedstryd teen Montagu-klub. Villa het die wedstryd met 27-19 gewen en Montagu se Top 12-drome finaal gekelder. Foto: Stephan Neethling

In die Langeberg-afdeling van die Groot-uitdaagkompetisie pak die voorlopers, Robertson Town, Saterdag (16 Augustus) die Young Hamiltons (Hammies) op die Van Zylstraatstadion in Robertson.

Hammies se 34-36-nederlaag verlede week in McGregor teen McGelly, sal dié span gewis op al sy silinders moet vuur om nie nog ‘n nederlaag op die lyf te loop nie.

Op Bolandpark speel Villa teen die einste McGregor en ‘n sege hier sal dinge vir Villa baie makliker maak. Villa het die afgelope naweek op sy tuisveld nog ‘n tree nader aan Top-12-deelname gegee deur die Montagu-klub met 27-19 te klop (berig op bl.15).

Touwpark geniet tuisvoordeel teen Rawsonville United. Ashton United ontvang besoek van sy bure, Rangers Robertson, terwyl Swellemdam op die Powellstadion in Swellendam teen Villagers Montagu (Sesduim) te staan kom. Montagu-klub speel Saterdag tuis op die King Edwardstadion in Montagu teen Blue Birds van Bonnievale.

In die Streekuitdaag-kompetisie (Breërivier-afdeling) speel Primroses Saterdag tuis teen De Doorns United, terwyl Laingsburg besoek van die voor- lopers, Alberts, ontvang.

Overhex kry Saterdag besoek van Mountain Stars, terwyl Orchard op sy tuisveld teen Proteas te staan kom.

Goudini speel op sy tuisveld teen Klipdrift, terwyl Villagers Breërivier op sy tuisveld teen Worcester Perseverance (Persies) te staan kom. – Alver Uys

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article