Phillip Retief van Van Loveren-kelders het insigte oor familie-ondernemings gedeel.

Phillip Retief, die uitvoerende bestuurder van Van Loveren-kelders, het op PSG Breedevallei (voorheen Consult Breedevallei) se tiende skou-ete op Vrydag 7 Februarie sy insigte oor die geheim van ‘n suksesvolle familie-onderneming en die wynbedryf met sakelui uit die finansiële bedryf in Worcester gedeel.

Van Loveren se handelsmerke sluit in Four Cousins, die Almost Zero-wynreeks, Tangled Tree, Zandvliet, Retief Reserve, Rhino Run, Five’s Reserve, Pappilon en Blaauklippen.

Van Loveren, wat in die Robertson-omgewing geleë is, word deur die vier Retief-neefs, wat sedert die 1990s die derde geslag is wat op die grond boer, bestuur.

Retief het vertel dat sy oupa, Hennie Retief, in 1937 na ‘n plaas op Robertson getrek het, waar hy dertig jaar lank geboer het met beeste, varke, lemoene en bietjie druiwe. Daar is soetwyn vir KWV in klein maat vervaardig. In die 1970s is daar met koue fermentasie begin, wat beteken het dat hulle droë wit wyn kon vervaardig.

In die 1980s het sy seuns, Nico en Wynand, die Van Loveren-handelsmerk begin. Die eerste dekade was ‘n bloeitydperk en het dit goed met die handelsmerk gegaan. In die 1990s sluit Nico se seuns, Bussell en Hennie asook Wynand se seuns Pillip en Neil by die onderneming aan, nadat hulle hul studies voltooi het.

“Die onderneming was groot genoeg om ons al vier te akkommodeer, maar nog klein genoeg dat ons self moes inspring om trekker te ry en op die grond te werk. In 1999 het ons Four Cousins bekendgestel nadat ons grootmaatwyn gehad het wat nie verkoop het nie,” het hy vertel. “Ons het ‘n foto uit die familie-album gaan haal en dit is vir die bottel se etiket gebruik,”het hy vertel.

Deesdae is die vier neefs die dryfkrag agter dié florerende familie-onderneming.
Verantwoordelike besluite is belangrik om ‘n onderneming saam met familie te laat floreer.

“As jy ontslae raak van entitlement en besef dat niks eintlik joune is nie, vermy jy die meeste van die probleme wat in familieondernemings opduik. Daar moenie gierigheid wees nie en die klem moet op ‘ons’ wees in plaas van ‘ek’,” sê hy. “My pa en oom het die wysheid gehad om te weet wanneer die tyd reg was om oor te gee aan die volgende geslag en het ons besluite vertrou.”

Sakebeginsels moet altyd seëvier, anders gaan ’n onderneming faal – emosie mag nie deel wees van die somme nie.

“In so ’n familieonderneming, wat oor geslagte strek, moet ’n mens ook die wysheid hê om te besef dat jou kinders nie noodwendig daarby betrokke wil raak nie – iets wat dikwels konflik veroorsaak,” het hy gesê.

“’n Mens moet só daaraan dink: die onderneming is soos ‘n rivier wat verbyvloei en jy het die geleentheid om vis te vang daaruit. Die rivier is nie joune nie, jy is slegs die rentmeester daarvan. As jy ‘n nalatenskap wil agterlaat, moet jy besef dit gaan nie meer oor jouself nie, maar die mense wat vir jou werk. Dit gaan oor geleenthede wat jy skep vir diegene in die onderneming,” het hy gesê.

“Omdat die familie groei, moet die onderneming óók groei om aan hulle te voorsien.”
Hy het aan sakelui gesê dat familie-ondernemings ‘n grondwet in plek moet hê sodat almal weet waar hulle staan en dat daar gereeld reguit met mekaar oor die toekoms gepraat moet word. “Ons hou twee keer ‘n jaar familievergaderings wat geen heilige koeie het nie. Kommunikasie is baie belangrik as jy die onderneming suksesvol wil bedryf.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article