Wynmaker Hennie Hugo.
Hennie Hugo vier vanjaar sy vyftigste oesjaar as wynmaker.

Tussen die groen heuwels, knus tussen die wingerde van Seven Oaks Winery buite Worcester, is Hennie Hugo (71) in sy element in die kelder. Dit is hiér waar hy topklas-wyne maak – en met vyftig agtereenvolgende oesjare agter die blad, praat hy die taal van wyn vlot.

By dié kelder word sowat 100 ton druiwe verwerk en Hugo geniet die proses, waar hy meestal alleen werk, terdeë.

“Daar is iets besonders daaraan om op ‘n naweek wanneer dit stil is deur die kelder te stap. Ek stop by elke tenk en ruik en proe aan die wyne in wording. Wanneer dit ‘n mooi wyn is, kan ‘n mens net sê ‘dankie, Here’. Daar is soveel veranderlikes wat bydra tot hoe die wyn ontwikkel, nie een is dieselfde as vantevore nie.”

Hy waardeer dit dat hy by die kleiner kelder sy hand op elke aspek van die wynmaak-proses kan hou en steeds tyd het vir ander dinge in die lewe.

Hugo het op die wingerdplaas Vrede, naby Bosjes is, grootgeword. Wynmaak was nog altyd sy passie en ná hy wingerd- en wynbou aan Elsenburg studeer het, het hy heel onder begin deur tenks by Botha Kelders skoon te maak. Sewe jaar later het hy by die Aan de Doorns Kelder aangesluit. Die volgende skuif in sy loopbaan was as be- stuurder-wynmaker by Goudini Kelders waar hy drie dekades deurgebring het.

‘n Onverwagse kankerdiagnose het hom genoop om vroeg af te tree, maar met die kanker in remissie het die wynbedryf hom weer nadergehark.

Hy het by Wandsbeck gewerk tot hulle by Bonnievale Wines ingelyf is. Daarna het hy wyn by Seven Oaks Winery begin maak.

Sy slag met wynmaak het hom verskeie toekennings besorg, onder meer die mees onlangse die dubbelgoud wat hy by die Veritas-toekennings vir sy ongehoute 2022 Chardonnay ontvang het.

Vroeër jare het Hugo die Pietman Hugo-trofee in 1987 en 1989 Worcester se Jongwynskou gewen by. In 1999 is hy as Worcester se Wynmaker van die Jaar aangewys. Sy loopbaan het vir hom die geleentheid geskep om te reis en dele van die wêreld te sien.

Die bedryf en wynmaak het die afgelope vyftig jaar baie verander.

“In my pa se tyd het bykans elke wingerdplaas ‘n kelder gehad. Daar was ‘n stadium toe baie kleiner kelders met groter kelders saamgesmelt het. Deesdae sien ‘n mens weer al meer kleiner kelders gevestig word,” sê hy. “Die wynmaakproses is steeds dieselfde – sap wat gis en alkohol en geure vorm. Die masjienerie het egter baie verander en ek dink die hedendaagse druiweparse werk sagter met die druiwe.”

Op 71 jaar dink Hugo nog nie aan stilstil nie. “Solank as wat ek kan, gaan ek nog goeie wyne maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article