Daar is net nie keer aan Worcester United-krieketklub se vrouespan nie.
Die span het Caledon KK Sondag (12 Februarie) geklop om hul onoorwonne segetog voort te sit.
Dié vrouespan het die afgelope twee agtereenvolgende seisoene nog nooit ’n mededingende wedstryd óf selfs ’n vriendskaplike wedstryd verloor nie.
Sondag se warm weer het opwindende krieket opgelewer toe Caledon die loot gewen het en besluit het om die tuisspan van Worcester eerste in te stuur om hul 50 beurte te kolf.
Die Worcester United-krieketklub se vrouespan het Sondag weer eens bewys waarom hulle die onoorwonne kampioene is nadat hulle ’n stewige 217 lopies teen Caledon aangeteken het.
Chrisna van Slicht is as Worcester se speler van die wedstryd aangewys nadat sy 67 lopies aangeteken het, waarvan ses grenshoue was.
Sy het ook haar vernuf met die bal in die hand gewys en vinnig drie kolwers van Caledon terug kleedkamer toe gestuur.
Die vrouespan het ook hul borge bedank, waaronder die BVM, De Jagers, Blondies Transport en Sasko Bakkery.
Hulle waardeer opreg hul ondersteuning, wat bygedra het tot ’n uitsonderlike seisoen vir die span.. Enige jong vroue wat graag by die vrouespan betrokke wil raak, kan Elmaré Andrews by 073 094 9979 bel.



