Christaan Neethling het sedert sy akute limfoblastiese (ALL) kankerdiagnose duisende Worcester-harte geroer en gewys wat die beteken as ’n gemeenskap saamstaan.
ALL is op 12 April by Christiaan gediagnoseer, en van daar af het die Neethling-gesin se lewe heeltemal verander. Een groot verandering is om gewoond te raak aan die enorme mediese koste.
Worcesteriete het immers nie stilgesit nie, maar dadelik aan die werk gespring toe verskeie skole op die dorp geldinsamelings vir klein Christiaan se mediese uitgawes gereël het.
Van die skole wat Christiaan ondersteun, sluit in Worcester Primêre Skool, wat ’n “civvie”-dag gehou het teen R5, Worcester-Noord Primêre Skool, wat leerders aangemoedig het om iets oranje by hul skoolklere te dra, en Worcester-Oos wat R20-lootjies ten bate van sy mediese rekening verkoop het.
Hoërskole wat ook betrokke was, sluit in Worcester Gimnasium, wat oranje linte teen R5 verkoop het vir die leerders om by hul skooldrag by te voeg.
Die Hoër Tegniese Skool (HTS) Drostdy het ook nie op hom laat wag nie en die afgelope Vrydag (21 April) ook spatsels oranje aangetrek, terwyl die Hoërskool Montana se leerders ook iets oranje kon aantrek teen R5, wat die kleur is vir ALL.
Bekendes in Suid-Afrika het ook bemoedigende boodskappe aan Christiaan op sosiale media gedeel, en van hulle sluit in die legendariese Springbok-rugbyspeler Danie Gerber sowel as die Springbok Eben Etzebeth en sy vrou, Anlia (sangeres), Danny Smoke, Gian Groen, Bok van Blerk en Tino, wat almal kunstenaars is.
Christiaan se behandeling gaan minstens ses tot agt maande duur en daarna nog ’n ekstra drie jaar vir konstante besoeke en toetse.. Skenkings kan by Capitec, spaarrekening, 2116226828, inbetaal word. Die rekening is in die naam van Christiaan Neethling.





