Chris Koopman (34)Foto: Argief

Credit: SYSTEM

Die Standard het in Junie vanjaar berig oor ’n geliefde Worcesteriet, Chris Koopman van Noble Park, wat weens pankreatitis en ’n kwaadaardige sist in ’n hospitaal in Florida in Noord-Amerika beland het.

Volgens die vroeëre berig het Chris in Maart vanjaar in Noord-Amerika op een van Royal Caribbean Adventure se passasierskepe vertrek waar hy as ’n vermaaklikheidster werk.

Chris se planne om die gaste met musiek te vermaak en die wêreld verder te verken, het skipbreuk gely toe hy in April in ’n hospitaal in Mexiko beland het voordat hy na Florida oorgeplaas is.

Sedert Standard met die Koopman-gesin gesels het, het twee maande reeds verbygegaan.

Die koerant het vir hierdie week se uitgawe weer by hom gaan aanklop om te hoor hoe dit gaan.

Volgens Christopher Koopman, Chris se pa, sterk sy seun goed aan, en hy is van die waakeenheid na ’n gewone saal oorgeplaas.

Hoewel Chris goeie vordering maak en gereeld fisioterapie ontvang, sal hy nog ’n ruk in die hospitaal moet deurbring om die volle omvang van die pankreatitis te behandel, en “hopelik” teen die einde van die jaar na Worcester kan terugkeer, volgens sy pa.

Christopher het verduidelik dat Chris ook weer kan praat, en sy gesin bel.

“Dit is maar baba-treetjies,” sê hy.

Volgens hom ontvang Chris ook volgende jaar rekonstruktiewe chirurgie op ’n gedeelte van sy been.

’n Gerusstellende faktor, volgens Christopher, is dat sy seun in goeie hande is.

Beide Chris se ouers het vroeër in Augustus na Worcester teruggekeer ná ’n maand lange besoek aan hul seun.

“Dit was maar aan die begin ’n tranedal; sy [Chris se] ma moes bid, want ek kon net nie aan die bid kom nie,” sê Christopher op die vraag oor hoe dit vir hom was om sy seun te sien.

Nolene Koopman, Chris se ma, wil ook haar dank uitspreek teenoor Breedevalleiers vir hul ondersteuning, hetsy finansieel of anders.

“Ons as gesin is opreg dankbaar vir die alomvattende ondersteuning in ons tyd van bekommernis, seer en verlange in die tyd toe ons gehunker het na elke stukkie hoop, liefde en troos. In dié tyd toe ons stukkend was, het julle [Breedevalleiers] ons weer heel gemaak.

“Baie dankie aan elkeen vir die finansiële bydraes, vir die geldinsamelings, die bemoedigende woorde, vir die vertroostende glimlagte, die drukkies […], gebede, oproepe en boodskappe en huisbesoeke en bidure.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article