Die Worcester United-krieketklub (WUCC) se A3-span het sy vierde opeenvolgende oorwinning gevier.

Die Worcester United-krieketklub (WUCC) se A3-span het sy vierde agtereenvolgende oorwinning gevier nadat dié span Robertson in ‘n Boland-liga kragmeting oortuigend geklop het.

Robertson het die loot gewen en WUCC ingestuur om eerste te kolf. Die twee openingskolwers, Ettiene Jansen (20) en Matthew Fisher (33), het stewig begin, maar vinnige paaltjies het gevolg. Slegs die veteraan Danwill “Blapie” Pienaar het die kolflyn met ‘n waardevolle 23 lopies gestabiliseer.

Die WUCC is uiteindelik vir 148 lopies in 42 boulbeurte uitgeboul.

In sy boulbeurt het die jong Seth Fisher, Matthew se broer, sy talent gewys met ‘n indrukwekkende openingspel wat druk op Robertson geplaas het. Die ster van die dag was egter Yushri van Wyk, wat met ‘n briljante vier paaltjies vir slegs 13 lopies in sewe boulbeurte Robertson se hoop laat kwyn het. Blapie het ook sy golden arm met drie paaltjies gewys, wat Robertson se kolflyn laat ineenstort het. Robertson is vir net 81 lopies almal uit, wat aan WUCC ‘n gemaklike oorwinning besorg het.

Dit was Worcester United se vierde opeenvolgende oorwinning en die span se momentum lyk sterk. Sy volgende uitdaging is teen Villiersdorp op Bolandpark, wat hierdie Saterdag op die B-veld gespeel word.

Verder sal WUCC se A2-span op die A-veld teen Van der Stel te sien wees, terwyl die A1-span in Stellenbosch teen dieselfde teenstander speel. Hierdie wedstryde sal die laaste van die jaar wees voordat krieket weer in Januarie hervat word. – Hadley Alberts

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article