Sokker-entoesiaste kan hulself regmaak vir topklassokker hierdie Sondag (17 Augustus) op Esselenpark in Worcester.

Vier spanne staan nog die kans om bo-aan die punteleer te eindig.

Die eerste geplaaste Eleven Experience kom te staan teen View of Hope (VOH), wat derde geplaas is. Indien Experience hierdie wedstryd wen, is hy so te sê seker van die gesogte trofee in die Worcester-sokkerunie se BVLFA-liga.

Die derde geplaaste VOH gaan dit egter glad nie vir hul teenstanders maklik maak nie, aangesien hulle tweede op die punteleer kan eindig as hulle wen. Indien die tweede geplaaste Worcester Legends teen Merwida Stars verloor, staan VOH die kans om as wenner in die liga te pronk.

Legends sorg egter naweek ná naweek vir sokker van hoogstaande gehalte.

Indien die Legends wen en Experience teen VOH in die stof byt, kan hulle as die kampioene wegstap.

Een van die toeskouers se gunstelinge, Manchesters United, kan tweede eindig as hy sy wedstryd teen Generation wen en Legends en VOH albei hul wedstryde verloor.

Met Eleven Experience as die groot gunsteling wag daar groot drama die naweek op Esselenpark.

Toeskouers kan hulle regmaak vir goeie sokker.

• Hekgeld beloop R5 per persoon en R5 vir voertuie. Toegang is gratis vir pensioentrekkers en kinders onder vyf jaar. – Theo de Bruin

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article