Worcester skoolhoof en span laat speke sing vir liefdadigheid

Die WPS-span in Bainskloof op pad na die einde van die Munga Equipe-fietsren.

Vyf fietsryers van die Primêre Skool Worcester (WPS) het die uitdagende Munga Equipe-fietsren op 26 November aangepak. Dié aflos-ren, wat oor ‘n afstand meer as 1 000 km beslis is, word as een van die moeilikste bergfietsuitdagings gereken.

Die WPS-span het bestaan uit die skoolhoof, Wimpie Blom, die onderwysers Ilze Cordier en André Cilliers, Ryno Palm (‘n ouer) en Jaco van Dyk, wat die skool ondersteun.

Baie ure se oefen en voorbereiding het die span se deelname voorafgegaan.

Die span was moeg maar gelukkig nadat hulle die uitdagende Munga voltooi het. OP die foto is André Cilliers, Wimpie Blom, Tiaan le Roux wat die span ondersteun het, Ilze Cordier, Jaco van Dyk en Ryno Palm. Foto: verskaf

Die fietsryers het in Bloemfontein weggespring en by die Doolhof-wynplaas in Wellington geëindig. Gedurende dié vyf dae moes die span diep delf om elk hul deel van die roete deur die harde landskappe van die Karoo te voltooi.

Die fietsryers het dié uitdagende ren aangepak ter wille van liefdadigheid en dit het hulle aangespoor om aan te hou trap – selfs al het die kilometers hul bene lam laat voel.

“Die grootste uitdaging was dat elke been van die ren sy eie uitdagings gehad het – van wind, hael en reën tot onrybare grond en donker aande.

“Die laaste uitdaging was die verstandelike voorbereiding en jou geestestoestand oor elke meter wat gery moes word,” sê Blom oor die ervaring, wat hom nog lank sal bybly.

“Dit was ‘n belewenis om deel te kon wees van ‘n fantastiese span en om die menslikheid te kon ervaar van almal wat deel was van die Munga.”

Hy is dankbaar dat hy die ren, wat hy aan die Here en sy dogter opgedra het, kon voltooi.

“Van die grootste hoogtepunte was dat die WPS kon deelneem en die engele wat oor almal se paaie gestuur is om die avontuur ‘n sukses te maak.”

Hy sê voorts hulle het ongelooflike ondersteuning van die personeel en ouers ontvang.

“As die Here almal spaar en indien dit Sy wil is, sal ons graag die Munga weer wil ry – hopelik met nog ekstra onderwysers wat saam sal deelneem,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article