Dit blyk dat daar geen keer aan misdaad in Suid-Afrika is nie – en Worcester word nie gevrywaar nie.
Worcester beklee die vierde plek landswyd vir kontakmisdade wat aangeteken is vir die periode Oktober tot Desember verlede jaar.
Dit blyk uit die jongste misdaadstatistieke wat verlede week deur die minister van polisie, Bheki Cele, bekend gemaak is.
Dié polisiekantoor het vir die tydperk Julie tot September 2021 die dertiende plek beklee. Kontakmisdaad het van 165 in dieselfde tydperk (Oktober tot Desember) 2020 tot 218 in die 2021-tydperk toegeneem.
Worcester beklee die 29ste plek as dit kom by algemene roof, met ’n toename van 18 van 34 in 2020, tot 52 in 2021.
Die dorp beklee die 30ste plek met 165 voorvalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Vir gewone aanranding is Worcester agste met 291 voorvalle wat vir die tydperk Oktober tot Desember 2021 aangemeld is, ’n afname van 29 vir dié tydperk in 2020.
Onder kwaadwillige eiendomsbeskadiging beklee Worcester die vierde plek met 217 voorvalle, ’n toename van 59 van die vorige jaar se ooreenkomstige tydperk.
Daar was in Oktober tot Desember 2021 altesaam 74 inbrake by nie-residensiële persele in Worcester, een meer as die vorige jaar dieselfde tyd. Dit het die dorp ’n neënde plek besorg op die top-30-lys in die land.
Die dorp beklee ook die 14de plek as dit kom by algemene diefstal, met 314 sake aangemeld vir die tydperk Oktober tot Desember 2021, ’n toename van 48 sake teenoor die vorige jaar se ooreenkomstige tydperk.
Onder die afdeling waar dit uitgelig word hoe misdaad voorkom is vanweë polisieoptrede in die tydperk, beklee Worcester die 15de plek met 323 sake, altesaam 30 minder as die vorige jaar.
As dit kom by dwelmverwante misdaad beklee die dorp die 12de plek met 296 sake vir die tydperk Oktober tot Desember.
NASIONAAL
Suid-Afrika se moordsyfer het van Oktober tot Desember 2021 met 8,9% toegeneem.
Altesaam 2 599 mense is in openbare plekke vermoor. Die tweede mees waarskynlike plek waar moord sal plaasvind, is by die huis van die slagoffer of die oortreder.
Drankafsetpunte was die derde mees waarskynlike plek in Suid-Afrika om doodgemaak te word.
Volgens die minister was 902 uit 6 859 mense wat van Oktober tot Desember 2021 in die land vermoor is, vroue en 352 kinders. Altesaam 232 moorde was ’n gevolg van gesinsgeweld.
Verkragting het met 7,4% in die driemaande-tydperk gedaal van 12 218 tot 11 315.




