Worcester se polisie ondersoek twee moorde wat die afgelope naweek plaasgevind het.


Die polisie vra die publiek se hulp met inligting nadat twee mense in afsonderlike voorvalle in Worcester vermoor is.

In die jongste voorval is die lyk van die 22-jarige Tandeka de Bruin van Kalkoenstraat in Avianpark Maandag (11 November) omstreeks 06:00 op ’n oop stuk grond tussen Katlagter- en Albatrosstraat in Avianpark aangetref.

Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, het De Bruin ’n skietwond in die voorkop gehad. Sy is op die toneel dood.

Jacobs sê die motief vir die voorval is in dié stadium nog onbekend en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

In nog ’n voorval verlede week is die lyk van die 37-jarige Magcinandile Ricardo Kowa van Mandela Square, Zwelethemba, op Woensdag 6 November omstreeks 11:30 in Samuel Walterstraat aangetref.

Volgens Jacobs het die polisie omstreeks elfuur die oggend klagtes ontvang oor vuurwapenskote wat in die Bloedrivier- informele nedersetting in Roodewal afgaan.

Na aanleiding van inligting wat die polisie ontvang het, het twee verdagtes te voet in die rigting van die nywerheidsgebied gevlug toe ’n groep onbekende mans hulle agternagesit het.

Jacobs sê die verdagtes was in “donker klere” geklee.

Volgens haar het die polisie afgesit na die nywerheidsgebied. In Samuel Walterstraat het hulle op Kowa se lyk, waar dit langs die pad gelê het,afgekom. Hy het ’n oop wond aan sy kop gehad.

Jacobs sê die groep mans wat die twee verdagtes agternagesit het, het hulle (die verdagtes) glo met klippe bestook.

Volgens haar het die groep mans Kowa verder aangerand toe hy in die proses geval het.

Kowa is op die toneel dood.

Niemand in nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Enigeen met inligting oor die moorde kan die polisie by 023 348 8605 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article