Die bloed het die afgelope Paasnaweek in en om Worcester gevloei toe altesame vier moorde aan die owerhede gerapporteer is. In een van die voorvalle is ’n man in hegtenis geneem nadat hy na bewering ’n nabye familielid vermoor het.
In die jongste voorval die afgelope Sondag het die oorledene, Lee-André Witbooi, en die getuie omstreeks middernag deur ’n gang tussen die Q- en P-woonstelle in Roodewal gestap op pad na ’n winkel.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, het ’n onbekende man met ’n bofpalpet op sy kop en ’n vrou – wie se gesig bedek was – verby Witbooi en die getuie in die gang gestap.
Volgens Jacobs het Witbooi die onbekende man ’n sigaretaansteker gegee toe hy daarvoor gevra het. Sy sê die oomblik toe die onbekende man – wat ook die verdagte is – aan die getuie begin pluk het, het Witbooi sy sigaretaansteker terug gevra.
Volgens haar het die verdagte aan Witbooi gesê om sy (Witbooi se) sigaretaansteker te kom haal.
Jacobs sê die verdagte het toe ’n vuurwapen uitgepluk en Witbooi noodlottig in die nek gewond. Witbooi het op die toneel aan sy skietwond beswyk.
’n Moord-dossier is aangelê. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
In nog ’n voorval Saterdag (8 April) omstreeks sewe-uur het die oorledene, Clezano Mienies (25), en ’n nabye familielid by hul woon-eenheid by Roodewal-woonstelle gestry.
Volgens Jacobs het Clezano die familielid die huis belet omdat hulle reeds die laaste paar dae aan die stry was. Sy sê die verdagte het toe ’n skêr uitgepluk en Clezano aan die linkerkant van sy nek gesteek.
Volgens Jacobs het Clezano in die sitkamer inmekaargesak. Nooddiens-personeel het hom op die toneel dood verklaar.
Die verdagte is in hegtenis geneem en sou na verwagting Dinsdag in die Worcester-landdroshof verskyn het.
Voorts het die polisie in Zweletemba ’n moord-dossier geopen nadat die lyk van ’n man Saterdag (8 April) omstreeks 12:00 agter die Magwaleni- informele nedersetting in Zweletemba aangetref is.
Jacobs sê die polisie het op dié dag om 11:23 ’n telefoonoproep ontvang van iemand wat hulle van die lyk verwittig het. Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle op die lyk van Katiso Magoboshani (26) van Lesotho afgekom waar hy met ’n steekwond in die maag in ’n sloot gelê het.
Jacobs sê ’n vriendin het later aan die polisie gesê dat sy Magoboshani die vorige dag nog skuins ná 11:00 gesien het toe hy die huis verlaat het.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. ’n Moord-dossier is aangelê.
Op Vrydag (7 April) het die skote weer in Avianpark geklap.
Volgens Jacobs het die oorledene, David Mehlomakhulu (56), die aand van die voorval omstreeks 21:40 in Kuikenstraat gestap, terwyl twee onbekende mans – geklee in kappie-tops – hom agtervolg het.
Jacobs sê een van die booswigte het kort hierna ’n vuurwapen uitgepluk en altesame agt skote in die rigting van Mehlomakhulu gevuur. Volgens haar het die oorledene se aanvallers ná die voorval op die vlug geslaan. Mehlomakhulu is op die toneel dood verklaar.
Volgens Jacobs is die verdagtes in dié stadium nog onbekend.
Die polisie ondersoek ’n moordsaak.




