André du Preez van Silverfox Snake Rescues het al 134 slange sedert September verlede jaar gevang.

Credit: SYSTEM

Worcester is bekend vir sy mooi berge, vriendelike inwoners en goeie wyn, maar ook vir aardige reptiele en slange wat hulle in inwoners se huise tuismaak.

Die plaaslike slangkenner en -vanger André du Preez van Silverfox Snake Rescues vertel hy het die afgelope paar maande amper dubbeld die aantal slange as in die hele jaar vooraf gevang.

“Ek het sedert September verlede jaar al 134 slange gevang, waarvan 70% dodelike slange was. Teengif is ’n groot probleem in die land, maar ons is dankbaar teengif is wel by ons hospitale in Worcester beskikbaar.”

Du Preez is ’n bekende in die gebied en het al talle inwoners in hul uur van nood bygestaan. Hy lewer ook gereeld praatjies en interessante seminare by sakeondernemings en skole om bewusmaking te skep rakende slange, ander reptiele en die gevare sowel as hoe om hulle te hanteer.

“Mense weet nie altyd wat om te doen as hulle ’n slang teëkom nie, en dit is belangrik dat hulle weet – dit kan ’n lewe red.”

Du Preez voer aan dat inwoners dadelik ’n geregistreerde slangkenner moet bel as hulle ’n slang teëkom, en so ver as moontlik van die slang af probeer bly, maar steeds naby genoeg om ’n ogie te hou.

“As ek uitgaan, wil ek dadelik weet waar om te soek, want ’n slang kan vinnig verdwyn. Mense moet hulle dophou of in ’n kamer toemaak en seker maak die vensters en deure is goed geseël deur ’n handdoek of ander kledingstukke in gapings te druk sodat hy nie kan uitseil nie,” verduidelik hy.

Hy vertel verder ook dat ’n slang deur ’n opening van net 1 cm kan seil.

Du Preez maak staat op skenkings om hierdie noodsaaklike diens aan inwoners te kan lewer.. Enigiemand wat in nood is, kan Du Preez by 082 305 9209 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article