Terwyl die meeste mense in die plaaslike gemeenskap dit die afgelope langnaweek as vanselfsprekend aanvaar het om Vadersdag en Jeugdag om die braaivleisvuur saam met familie en vriende te vier, het die Worcester Neighbourhood Crime Watch (WNCW) onthou dat daar kinders is wat nie so bevoorreg is om vandag tuis te wees nie, omdat hulle siek en in die hospitaal is.
Gevolglik het die polisie se Sektor 4 en die WNCW die inisiatief geneem om die kinders by die Brewelskloof- en Worcester-hospitaal te besoek en te bederf . . . en as gepraat word van bederf, dan word omtrent gepraat van bederf!
Die 15 kinderpasiënte in die Brewelskloof-hospitaal en die 34 kinderpasiënte in die Worcester-hospitaal het nie geweet wat hulle tref nie toe 25 mense ewe skielik daar opdaag met bokse en kratte en sakke vol goed.
Daar was aartappelskyfies, boeke, doeke, beskuitjies, gebreide speelgoed, inkleurboeke, kamme en borsels, splinternuwe klere, kryte, lekkers, poeier, reënjasse, rugsakke, seep, sjampoe, splinternuwe speelgoed in oorvloed, tandeborsels en tandepasta, teddiebere en vrugtesap!
Vir ’n oomblik het die pure verbasing en opgewonde gelag van kinders deur die hospitaalsale en gange weerklink en kon die kinders van hul sorge vergeet en net vir ’n oomblik weer pure kind wees.
Die hooffokus van die WNCW se inisiatief was om by kinders uit te kom wat ver van die huis af is en vir wie Vadersdag en Jeugdag maar net nog ’n dag op die kalender is en om hulle te wys daar is mense wat vir hulle omgee.
Sommige kinders in die Brewelskloof-hospitaal moet tot ses maande in die hospitaal bly om van tuberkulose te genees.
In sommige gevalle word hierdie kinders dan ná hulle hospitaaltydperk nie weer na hul ouerhuise teruggestuur nie (aangesien hulle daar weer moontlik TB kan opdoen), en gevolglik word hulle dan in pleegsorg uitgeplaas.
Op party plekke by die hospitale was geen speelgoed vir die kinderpasiënte nie en as daar wel speelgoed is, moet die kinders beurte maak om daarmee te speel en kry ’n kind net ’n kwartier kans om met ’n speelding te speel voordat hy/sy dit na ’n maatjie moet aangee.
In een geval was daar ’n klein meisietjie wat net die heeltyd in haar kot gelê en altyd bot was en niks met iemand wou praat of lag nie.
Ná die besoek van Worcester Neighbourhood Crime Watch het sy egter van oor tot oor geglimlag en selfs vir die eerste keer dat sy in die hospitaal is, begin lag, want sy was so bly oor die besoek.
’n Verdere verblydende hoogtepunt was ook dat die WNCW se jeugpatrollielede aan hierdie jeuguitreik na ander jeug deelgeneem het, wat dus meebring dat die jeug mekaar ondersteun het.
Baie van die kinders het ten spyte van hul siekte en pyn ’n drukke aan die spanlede gegee om hulle net persoonlik te bedank en hul waardering vir hul geskenke uit te spreek.
Die WNCW bedank al die lede van die publiek, al hul eie lede asook lede van ander organisasies vir al die skenkings wat aan hulle gegee is en vir al die bystand in hierdie verband.
’n Verdere woord van dank word ook gerig aan die voorsitter van sektorpolisiëring van Sektor 4, Jakes Botha, die bestuurder van Sektor 4, adjudant-offisier Julian Plaatjies, luitenant-kolonel Marshalene Pietersen van sigbare polisiëring en adjudant-offisier Jacobs van die polisie se kommunikasie-afdeling.
Indien enigeen graag by hierdie inisiatief betrokke wil raak, is hulle welkom om met die skakelbeampte van Worcester Neighbourhood Crime Watch, Tiana Botes, by 072 828 0828 in verbinding te tree.





