Voortreflike spel was die kenmerk van die Wolseley-krieketklub in sy Groep C-kwalifiserende wedstryde vir die Boland se Superliga T20 op Essellenpark-stadion in Worcester.
Wolseley het al drie sy groepfase- wedstryde gewen om na die volgende ronde deur te dring.
Dit was ’n moeë, maar trotse Wolseley-span wat Worcester op ’n triomfantelike wyse verlaat het nadat hy eers Pioneers Tulbagh met 27 lopies geklop het, daarna Worcester Victorians met vier paaltjies uitoorlê het en die kersie op die koek gesit het deur Touwsrivier in die laaste wedstryd van die dag met 28 lopies te troef.
Dit was ’n selektiewe poging, tog moet Rashied September vir sy onoorwonne vyftigtal in die laaste wedstryd, Cyril Januarie vir die 11 paaltjies wat hy op die dag geneem het asook Leonard Prins vir sy uitstekende paaltjiewagterspel uitgesonder word.
Wolseley se puik prestasie bied aan die span die geleentheid om in Januarie sake uit te spook met die room van die streek se ander drie groepwenners sowel as die nege Premierligaspanne in die Bolandse Gold Rush Superliga T20-kampioenskap.
Wolseley se verkorte telkaarte: Pioneers Tulbagh teen Wolseley: Wolseley 95/5 in 20 boulbeurte. Die top-kolwers was Rashied September (18) en Leonard Prins (18). Wolseley het met 27 lopies gewen.
Worcester Victorians teen Wolseley: Victorians 102/9 in 20 boulbeurte. Beste kolwers was Curtley Benjamin (29); Nolan Loff (22); Wolseley het met vier paaltjies gewen.
Touwsrivier teen Wolseley: Wolseley 111/5 in 20 boulbeurte. Hier het Rashied September met 50 lopies nie uit nie uitgeblink. Wolseley het met 28 lopies gewen.


