Die Superbro-sportdag wat verlede Saterdag (7 Desember) op Worcester Gimnasium se sportterrein in dié dorp gehou is, was weer eens ’n reusesukses.
Verskeie sportsoorte, waaronder sokker en netbal, is vanjaar by die gewilde rugbyprogram gevoeg om meer kleur aan die dag te gee.
Sowat 600 spelers het aan die dag deelgeneem en meer as 70 ondersteuningspersoneel was betrokke, wat dit een van die grootste sosiale sporttoernooie in die Wes-Kaap gemaak het.
Die organiseerders wat die toernooi vir die vierde keer vanjaar aangebied het, beloof dat dit ’n groter en beter toernooi in 2025 gaan wees met krieket wat ook moontlik gaan bykom.
Volgens die toernooidirekteur, Ashley Dreyden, was dit ’n ideale dag vir alle sportsoorte, dus kon almal in die sukses van die dag deel, met veral die gemeenskap die uiteindelike wenners omdat die toernooi vir hulle was.
Hy noem ook dat die toernooi ’n bewys was dat enigiets moontlik is as daaroor gedroom word en dan deeglik beplan word.
Die toernooi sal volgende jaar op 10 Desember weer gehou word met die doel om die toernooi verder uit te brei en in ander streke in die Boland en selfs die Wes-Kaap aan te bied.
Die uitslae was soos volg:
Netbal: Die wenners was Diamonds met Alberts as die naaswenners.
Oor-35-jaar-rugby was die Plaatwenners CBR Knock-ons. Die wenners was Titans met die gasheer Superbro’s die naaswenners. Die rugby- ope afdeling is gewen deur Worcester Warriors met Dynamite as naaswenners. Die rugby-toernooiwenners was Dragons met Gelsquad as naaswenners in ’n eindstryd waarin Mario Marinus (Gelsquad) en die rugbygewilde Marco Jones baie prominent was.
Gelsquad het die eerste ontmoeting tussen die twee spanne gewen en nadat albei spanne hul halfeindstryde gewen het, speel hulle weer in die eindstryd teen mekaar.
Gelsquad se Marinus het in ’n wipplankstryd eerste oorgeduik nadat hy 80 m ver vir sy drie gehardloop het.
Dragons het egter nooit gaan lê nie en twee vinnige drieë gedruk, waarvan Marco Jones een gedruk en terselfdertyd twee spelers van Gelsquad op pad doellyn toe platgevee het.
Vir die res van die wedstryd was albei spanne se verdediging rotsvas en geen verdere punte is aangeteken nie.
Dragons hedt die wedstryd 14-12 gewen.
Die Superbro’s Tens-organiseerders wil hul opregte dank uitspreek teenoor alle borge wat by die dag betrokke was asook alle deelnemende spanne en personeel wat gehelp het om ’n suksesvolle dag te verseker.
Die toeskouers wat hul spanne kom ondersteun het, word ook hartlik bedank asook Worcester Gimnasium vir die gebruik van hul sportterrein en geriewe.





