Dit was ’n geval van Wolseley se jeug en opportunisme teenoor Newtons se krag en ervaring.

Wat veronderstel was om vir Wolseley ’n doodeenvoudige Witsentraal-streekwedstryd te wees met niks behalwe ligapunte op die spel nie, het in ’n triomf geëindig toe hulle die passievolle Newtons 35-32 getroef het ná ’n rustydvoorsprong van 16-11.

Daarmee het Wolseley sy getroue ondersteuners op indrukwekkende wyse beloon met een van sy pragtigste vertonings hierdie seisoen. Pragtige, aanskoulike rugby was die norm tussen die twee spanne – onderskeidelik sewende en agste op die punteleer – met slegs een punt wat die spanne skei.

Albei spanne het beïndruk deur die manier waarop hulle die spel na mekaar toe gebring het in uiters warm toestande. Die eindtelling vertel miskien nie die volle verhaal nie, maar Wolseley het elke liewe punt verdien wat op ’n kreatiewe manier bekom is.

Dit was Wolseley se sleutel tot sukses,hul blitsige handspoed, vernuf en die pragtige manier hoe hulle mekaar in die spasie kon plaas, was klassiek.

Voorlangs het Newtons met sy gewig- en lengtevoordeel beslis soos ’n berg voor Wolseley gestaan, maar die jong turke het hulle geensins laat boelie of intimideer nie en soos tiere man vir man Newtons genadeloos gelak, wat die speelveld soos ’n siekeboeg laat lyk met Newtons-spelers wat die veld vol gelê het.

In die skrums het Wolseley hom goed van sy taak gekwyt terwyl die kaptein, Regan Fredericks, pragtig van voor gelei het met die woelige Charlon Snyders kort op sy hakke.

Newtons moet geensins uit die prentjie gelaat word nie, want daarvoor is hulle te vol talent en passie. Selfs toe hulle agter was, was hulle bereid om met avontuurlustigheid hulself terug in die wedstryd te speel. Tog was Wolseley net daai ietsie beter ten spyte van hul foute.

Newtons het alles gedoen wat enige span op so ’n gegewe dag sou doen, maar Wolseley het dié pogings met punte terugbetaal.

Die gevolg was dat hulle Wolseley se skaduwee begin jaag het, want Wolseley het van die begin van die wedstryd tot die einde voorgeloop met Newtons wat desperaat dinge probeer het.

Drie kern-oomblikke het die wedstryd in die tweede helfte gekenmerk. Eerstens was Wolseley wat sy rustyd-voorsprong van 16-11 na 28-11 vergroot het terwyl Newtons gestagneer het. Toe was dit weer Newtons wat met twee vinnige drieë die telling tot op 28-25 gebring het, wat die wedstryd in totale balans geplaas het.

Laastens was daar die hoogtepunt in die wedstryd wat Wolseley se sege bo alle twyfel geplaas het toe die plaasvervanger-losskakel Jowill Hilles van ’n skrum pragtig vlymskerp na binne breek om die vlieënde skrumskakel Bradley Ockhuys op skouspelagtige wyse onder die pale oor te stuur. Hilles het dit ook verdoel; telling 35-25.

’n Laat troosdrie deur Newtons het die telling tot op 35-32 gebring en dis ook hoe die wedstryd geëindig het.

Wolseley se punte het bestaan uit drieë deur Edward Jumat, Courtney Faanas (2) en Bradley Ockhuys.

Henrico Maurice het twee en Jowill Hilles een verdoel. Maurice was ook in die kol met drie strafskoppe.

Vir Newtons het Yachim Smith, CJ van Wyk, Brandon Adriaanse en Nathan Fredericks drieë gedruk. Theodore Marinus het drie verdoel asook met twee strafskoppe geslaag.Ander tellings van die dag:Wolseley B 24-9 Newtons B;Wolseley C 15-14 Newtons C.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article