Die DA in die Witzenberg is diep hartseer oor die afsterwe van die raadslid Gerrit Fredericks van die Witzenberg-kiesafdeling, wat direk vir die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit verkies is.
“Fredericks het sedert 2016 gemeenskappe met onderskeiding gedien en was bekend vir sy dienende leierskapsbenadering – nie net in die Witzenberg nie, maar in die Kaapse Wynlande en Wes-Kaap in die algemeen. Hy is deur baie bewonder vir die groot passie wat hy vir sy werk gehad het, sy werksetiek en die respek en leiding wat hy aan sy kollegas getoon het,” skryf Wendy Kaizer-Philander, die DA se kiesafdelingshoof in die Witzenberg, in ’n mediaverklaring.
Sy maak ook melding van sy uitsonderlike eienskappe.
“Hy was ook duidelik in sy rol as DA-veldtogbestuurder oor die jare en was ’n uitsonderlike kampvegter vir die DA in nie-DA-wyke. Deur sy passie en ywer het sy dryfkrag om die werk gedoen te kry, baie mense geïnspireer om meer vir Witzenberg te doen.”
Kaizer-Philander het ook haar medelye gedeel.
“Ons betuig ons innige meegevoel met sy geliefdes, sy suster wat hom liefdevol versorg het, sy broers en susters en die kinders wat hy agterlaat. Ons wens hulle alle sterkte toe wat hulle nodig het in hierdie moeilike tyd en hou hulle in ons gedagtes en gebede. Ons neem afskeid van ’n stoere agent van verandering. Mag hy in ewige vrede rus, ons geliefde kollega en vriend.”




