Vir die derde keer hierdie jaar het die Witzenberg ’n nuwe burgemeester.

Die DA het Dinsdag 14 Desember deur middel van ’n mediaverklaring aangekondig dat Trevor Abrahams in ’n spesiale raadsvergadering as die nuwe uitvoerende burgemeester vir die Witzenberg aangewys is.

“Vandag se spesiale raadsvergadering van die Witzenberg-munisipaliteit is ’n klinklare bewys dat koalisievennote en die gemeenskap vertroue het in die DA-koalisie, wat insluit die Witzenberg Party, Witzenberg Aksie en Vryheidsfront Plus,” lui die verklaring.

In Oktober vanjaar was Katreina Robyn van die GOOD-party as burgemeester aangewys en Petrus Heradien as die speaker. By ’n vorige vergadering was sy ook as burgemeester verkies maar dit was glo ’n onwettige vergadering. Daardie vergadering het gevolg toe speaker Elizabeth Sidego ’n vergadering in Junie vir rede buite die raad se beheer moes kanselleer. Die gure weer en sluiting van Michell’s-pas het tot die kansellering bygedra. Dit het toe daartoe gelei dat ’n groep raadslede ’n vergadering van hul eie gehou het. Tydens daardie vergadering is ’n mosie van wantroue teen die destydse burgemeester, Hennie Smit asook Elizabeth Sidego gebring.

Tydens die mees onlangse vergadering is Elizabeth Sidego weereens as speaker aangewys en Gert Labban behou sy pos as onderburgemeester.

Die verklaring lui verder: “ ‘n Volstrekte meerderheid het vandag ’n oorname van beheer bewerkstellig en ’n suksesvolle mosie gebring teen die voormalige burgemeester en speaker. Die ANC en koalisievennote het sedert Oktober bewys dat hul hoofdoel is om eie belang te bevorder. Die DA het ’n onderneming gemaak dat daar effektiewe oorsig uitgevoer sal word en die belang van inwoners van Witzenberg ten alle tye hoog op prys gestel sal word.”

Die DA meen ook hy is vasbeslote om die inwoners eerste te stel.

“Die DA sal nie swig onder politieke druk wat ten doel het om Witzenberg op haar knieë te bring nie. Ons is vasbeslote en bemagtig om al ons inwoners met integriteit, deernis en uitnemendheid te dien.”

Standard & Gazette het na GOOD uitgereik vir kommentaar en Brett Herron het met die volgende reageer: “Die DA het hul magte misbruik deur die LUR vir Plaaslike Regering te gebruik om onregmatig in te gryp. Die LUR beweer hy het ingegryp om ’n aangewese amptenaar aan te stel om die vergadering te belê en voor te sit, omdat die Speaker geweier het om die vergadering te belê. Die speaker het nie geweier om ’n vergadering van die raad te belê nie en die LUR het onwettig opgetree en sy magte vir partypolitieke doeleindes misbruik. Hierdie ampsmisbruik behoort inwoners, kiesers en die media attent te maak op die mite dat die DA ’n party van goeie regering is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article