Die Voëlvleidam, wat water aan die Tulbagh-gemeenskap verskaf, is relatief leeg en dag nul word in hierdie stadium vir 1 Julie voorspel. Foto: Ashraf Hendricks


Verskeie dorpe en selfs plase in die Witzenberg-streek moes die afgelope twee weke nie net beurtkrag trotseer nie, maar ook ernstige waterbeperkings weens die lae watervlakke in plaaslike damme.

Die Witzenberg-munisipaliteit het voorverlede Woensdag (19 April) waarskuwings op sosiale media uitgereik en inwoners ingelig dat die dam wat water aan Tulbagh verskaf, slegs 20% vol is.

“Die Tulbagh-dam is bykans leeg. Die oorblywende 20% se vermoë is gelykstaande aan net ’n maand se watervoorraad.

“Waterbeperkings, oftewel onderbroke toevoer, is ’n proses waarin die kleppe na sekere watertoevoersones gedurende sekere tye toegedraai word om water te bespaar,” het David Nasson, die munisipale bestuurder, gesê.

Tulbagh is op ’n vlak-4-waterbeperking geplaas, terwyl dorpe soos Ceres, Bella Vista, Nduli en PA Hamlet op vlak 1 geplaas is.

Volgens die munisipaliteit was die Koekedouwdam, wat hierdie dorpe (Tulbagh uitgesluit) van water voorsien, 37,2% vol.

Die Tulbaghdam, oftewel die Voëlvleidam, se “dag nul” word vir 1 Julie voorspel.

Ingevolge vlak 1 mag swembaddens nie gedurende die dag volgemaak word nie, tuine en parke mag nie van vroegdag tot in die middag natgemaak word nie en streng beheer en monitering deur wetstoepassers sal dit help verseker.

Vlak 4 is egter meer ernstig van aard en beteken die watertoevoer word vir die grootste deel van die dag toegedraai en in party dele is water dan glad nie vir die publiek beskikbaar nie.

Standard het met verskeie ondernemings en individue in die streek gepraat, wat hul indrukke met ons gedeel het. ’n Kelner by die plaaslike Tulbagh-hotel, wat graag anoniem wil bly, het gesê hulle kan – net soos talle ander restaurante – nie meer sekere items soos masjienkoffie voorsien nie.

“Ons kan wel lekker moerdrukker-koffie maak en is steeds gretig om besoekers by ons te verwelkom.

“Ons is nou al amper twee weke lank op hierdie beperkingsvlak. Dit is iets om aan gewoond te raak.”

Kallie Strydom, ’n inwoner van Tulbagh, verduidelik dat mense moedeloos raak.

“Eers sit ons met beurtkrag vir groot gedeeltes van die dag, en nou kan ons nie water gebruik nie.

“Ons kan nie noodwendig die munisipaliteit blameer nie, want hulle kan ongelukkig nie reën na ons gebied stuur nie, maar dit beteken dat ons as gemeenskap deurlopend deur die jaar moet oplet na waterverbruik en planne sal ingestel moet word om watervoorraad op te bou.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article