Wilskut verskyn weer in die hof – dié keer op verkragtingsaak ook

Die Breederivier Onafhanklik-raadslid Colin Wilskut.Foto: Verskaf aan die Standard deur die BO in 2022.


’n Bekende raadslid van die Breederivier Onafhanklik-party (BO), Colin Wilskut, het op 14 Maart in die streekshof in Worcester op ’n seks- en verkragtingsklag verskyn nadat twee slagoffers in 2019 klagtes aangemeld het.

AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, het aan Standard bevestig Wilskut het in die hof verskyn.

Volgens Jacobs is twee seksklagtes in 2019 teen Wilskut aangemeld, waarvan
een seksklag na ’n verkragtingsaak verander is en het op 14 Maart se hofverskyning só op die klagstaat verskyn.

Volgens die klagstaat, wat Standard onder oë gehad het, het die slagoffer wat die seksklag aangemeld het, verduidelik “Wilskut het gepoog het om aan haar vagina te vat, asook haar bobene gevryf en onvanpaste seksuele opmerkings gemaak sonder die slagoffer se toestemming”.

Die klaer wat die verkragtingsaak aangemeld het, het op die klagstaat verduidelik dat Wilskut haar vroulike privaatdele met sy vingers gepenetreer het – ook sonder haar toestemming.

Beide sake is tot Vrydag (31 Maart) uitgestel om die streekhofdatum te kry, het Jacobs gesê.





Standard het na die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) uitgereik om te hoor wat die prosedures van die BVM is insake ’n raadslid wat die gedragskodes van die plaaslike parlement oortree.

Volgens Johannes van Zyl, speaker van die plaaslike parlement, bestaan prosedures om raadslede verantwoordelik te hou.

Dit sluit in dat die voorsitter van die raad ondersoek sal instel, die betrokke raadslid ’n “redelike tyd” gegun sal word om op die beweringe te antwoord, en “dat die aangeleentheid moontlik na ’n tugkomitee van die raad vir ondersoek verwys sal word,” het Van Zyl verduidelik.

Indien ’n skuldigbevinding deur die komitee uitgebring word, kan die raadslid ’n waarskuwing in die vorm van ’n boete ontvang, versoek vir ’n sekere tydperk geskors word of (deur Anton Bredell, die minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning) afgedank word.

Volgens Van Zyl is hierdie prosedures teen Wilskut aan die gang.

“Die bewerings teen die raadslid [Wilskut] is reeds in die vorige termyn (2020) ondersoek en daarna is gedurende ’n raadsbesluit van 2020 besluit om met die ondersoek deur ’n tugondersoek voort te gaan. Die proses is nou verweef met die strafregtelike saak, wat terselfdertyd ’n aanvang geneem het, en die tugproses is op grond van regsadvies teruggehou in afwagting vir die afhandeling van die strafsaak,” het Van Zyl bygevoeg.

Gedurende ’n raadsitting in 2022 is besluit om voort te gaan met die tugondersoek teen Wilskut, en dit word tans deur ’n aangestelde tugkomitee ondersoek.


Standard het na Wilskut uitgereik, maar geen kommentaar teen druktyd ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article