Die Wes-Kaapse regering waarsku die publiek teen masels en ander siektes soos witseerkeel.

‘n Aansienlike toename in gevalle van masels word oor die land heen ervaar, met die Wes-Kaap wat die meeste nuwe gevalle aangemeld het.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is verlede week 56 nuwe gevalle in die provinsie aangeteken. Aangemelde gevalle in ander provinsies was soos volg: Vrystaat (2), Limpopo (21), Mpumalanga (18), Noordwes (7) en in die Noord-Kaap (10).

Volgens die Wes-Kaapse regering is daar nie tans ‘n uitbreking in die Breedevallei-, Drakenstein-, Langeberg-, Stellenbosch- of Witzenberg-gebiede nie, maar medici moet vinnig optree om kinders en gesinne veilig te hou.

Gemeenskappe wat wel deur die masels-uitbreking geraak word, sluit in Khayelitsha, Mfuleni, Eersterivier, Somerset-Wes, Mitchells Plain, Kraaifontein, Wesbank, Dunoon, Fisantekraal en Citrusdal aan die Weskus.

Die toename in gevalle van masels is nie uniek aan die Wes-Kaap nie, aangesien Suid-Afrika ‘n afname in kinders wat ingeënt word, ervaar. Dit hou ‘n ernstige risiko vir openbare gesondheid in en bedreig die land se pogings om siektes wat deur inentings verhoed kan word, uit te skakel, het die Wes-Kaapse regering gesê. “Hierdie afname in inentings het bygedra tot verskeie uitbrekings van masels, Duitse masels (rubella) en witseerkeel (diphteria), wat op ernstige gapings in die bevolking se immuniteit dui.”

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand het gesê inentings oor die provinsie heen bly een van hul topprioriteite. Hulle het die afgelope jaar hard daaraan gewerk om meer kinders in te ent sodat hierdie ernstige – en in sekere gevalle lewensgevaarlike – siektes, wat deur inentings verhoed kan word, voorkom kan word.

Die departement het ‘n vroeë waarskuwings- en reaksiestelsel vir uitbrekings soos hierdie ingestel sodat die reaksie gekoördineerd is en reg bestuur word. Uitreike waar inentings aangebied word, sal gehou word in gebiede waar ‘n toename in gevalle ervaar word.

Masels is ‘n uiters aansteeklike siekte wat infeksie in die lugweg veroorsaak. Die simptome sluit in ‘n hoë koors, ‘n uitslag, loopneus, hoes en pienkoog (konjunktivitis). Ouers word gevra om hul kinders tuis te hou wanneer hulle een of meer van dié simptome het. Indien ‘n kind koors het, slaperig lyk en nie wil eet nie, moet hy of sy mediese hulp kry.

Moontlike komplikasies wat masels inhou, sluit in longontsteking, diarree, brein-infeksie en blindheid. Jonger kinders, veral as hulle jonger as twee jaar oud is en ondervoed is, se risiko vir komplikasies is hoër.

Gratis inentings teen kindersiektes is by alle openbare gesondheidsklinieke beskikbaar. Kinders wat ‘n dosis misgeloop het, kan ook weer ingeënt word.

Die departement het ouers gevra om nie net aan te neem dat hul kinders immuun is nie, maar om in hul immunise­ringsboekies te kyk of hulle ingeënt is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article