Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelings­beplanning, het Vrydag die provinsiale brandgereedheids­inisiatief in Stellenbosch van stapel gestuur.

Volgens Bredell is dit ’n kommerwekkende feit dat die meeste veldbrande in die Wes-Kaap óf opsetlik gestig word óf weens nalatigheid ontstaan.

Dit is hoekom Bredell verlede week die groot rol beklemtoon het wat Wes-Kapenaars speel om te help om veldbrande te verhoed.

Bredell het gesê minder as 3% veldbrande word deur natuurlike oorsake, soos weerlig of rotsstortings, veroorsaak. Sowat 25% word opsetlik veroorsaak en 72% deur nalatigheid.

Bredell het gesê ’n besige brandseisoen word verwag, aangesien die lang en nat winterseisoen sterk plantegroei oor groot dele van die provinsie veroorsaak het. Digte plantegroei, tesame met warm, droë en winderige somerweer, skep gunstige toestande vir veldbrande.

Verlede seisoen is altesaam 7 215 veldbrande in die Wes-Kaap aangeteken. Die provinsiale regering het lugsteun vir 38 van hierdie veldbrande goedgekeur. Altesaam 85% van alle brande in geïdentifiseerde hoërisikogebiede is tydens die aanvanklike “aanvalsfase” onder bedwang gebring – die meeste binne die eerste uur.

Die Wes-Kaapse regering het in die vorige brandseisoen R14,5 miljoen op brandbestryding bestee.

Met die oog op die komende seisoen het die Wes-Kaapse regering R16 miljoen vir brandbestryding begroot. “Ons het lug- en grondondersteuningstenders gereed. Vir hierdie seisoen het ons vier helikopters op tender en toegang tot nog vier indien nodig. Ons het ook vier watervliegtuie en agt soekvliegtuie tot ons beskikking.”

Bredell het die belangrike rol van die Wedersydse Hulp-ooreenkoms, wat in die Wes-Kaap tussen munisipaliteite en die verskillende brandbestrydings­instansies van krag is, beklemtoon.

“Hierdie ooreenkoms verseker duidelike bevelslyne, vinnige begrotingsbesluite en koördinasie tussen verskillende instansies. Dit stel eenhede naaste aan ’n brand in staat om vinnig en met toegewyde fokus op die uitdaging op hande te reageer.”

Bredell het gesê die uitgebreide oorstromings van die afgelope winter het baie paaie beskadig wat nodig kan wees om toegang tot afgeleë gebiede te verkry. Dit maak brandbestrydings­pogings meer ingewikkeld. Hoewel die lugreaksiestrategie baie goed werk, kan dit slegs suksesvol wees as dit met effektiewe grondondersteuning gekombineer word.

“As sodanig wil ek aan elke lid van die sowat 2 300 brandbestryders – professionele brandbestryders en diegene op kontrak – wat hierdie seisoen beskikbaar sal wees, erkenning gee en bedank. Julle is die manne en vroue wat jul gesondheid en lewe in gevaar stel om hierdie harde en gevaarlike werk op die grond te doen om ons hierdie somer veilig te hou.”

Bredell het gesê die publiek vervul ook ’n kritieke rol in die voorkoming van veldbrande. “Statistieke wys die groot rol wat gewone burgers kan speel om nie net ons natuurlike omgewing nie, maar ook ons persoonlike veiligheid en infrastruktuur teen wegholveldbrande te beskerm.”

Bredell het gevra mense moet enige waarneming van ’n brand so gou as moontlik by die naaste owerhede aanmeld. “Ervaring oor baie jare het ons geleer hoe vinniger die aanvanklike reaksie is, hoe beter is ons kanse om ’n brand suksesvol te beheer voordat dit buite beheer raak.”

?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article