Wêreldtuberkulosedag (24 Maart) was ’n dag van feesviering by die Avianpark-kliniek, waar Breedevallei-inwoners meer geleer het oor dié bakterie, volgens Sandra Maritz, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid.
Pasiënte wat in Maart hul behandeling voltooi het, is vereer omdat hulle saam met gesondheidswerkers gewerk het deur getrou hul medikasie te neem.
Twee van die jongste pasiënte wat sertifikate ontvang het, is Esmé Lekay se seuns, Conze (4) en Keano (1).
Esmé het opgelet dat Conze se asma erger as voorheen is, en haar seuns na die kliniek gevat.
Hulle is positief getoets vir tuberkulose (TB) en het vir die afgelope ses maande soggens en saans pille gedrink. ’n Buurman het TB gehad, so sy was nie verbaas toe haar seuns positief getoets is nie.
“Ek het voorheen al TB gehad, so ek het geweet hulle sal oukei wees. Dit was nie so moeilik vir Conze om sy medisyne te drink nie, maar wel vir Keano,” het Esmé verduidelik.
Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement vra dat almal soos Esmé vinnig moet optree sodat lewens gered kan word.
By die Wêreld-TB-dag-geleentheid het suster Anina Engelbrecht aan die gaste verduidelik dat die volgende simptome TB-verwant kan wees:. Erge sweet snags of koorsig vir twee weke of langer;. ’n Aanhoudende hoes vir twee weke of langer;. ’n Gebrek aan eetlus en gewigsverlies;. As jy bloed uithoes of bloed in jou spoeg het; en. Kortasem of pyn op jou bors.
Mense wat een of meer van hierdie simptome het, moet dadelik ’n kliniek besoek.
Gesondheidswerkers gebruik sputum-toetse of X-strale om te bepaal of iemand TB het, en daardie mense moet dan vir minstens ses maande medikasie gebruik, selfs al voel hulle beter voor die tydperk verby is.
Engelbrecht het blinkertjies gebruik om te illustreer dat TB versprei wanneer jy hoes.
“Jy kan dit nie sien nie, maar ander mense asem daardie kieme in en word siek,” sê sy.
Mense kan hulself teen TB beskerm deur altyd vensters en deure oop te maak vir vars lug, en in jou gebuigde arm te hoes.
In die Breedevallei en Drakenstein is daar tans 2 336 mense wat vir TB behandel word, in die Langeberg 1 509, en in die Witzenberg 1 339.




