Die tyd het weer aangebreek vir die Wes-Kaap Soek-’n-Ster Talentkompetisie aangebied deur Mountain Mill Winkelsentrum.
Dit is die vyfde keer dat die kompetisie deur Mountain Mill aangebied word en dit word elke jaar net beter.
Die finaal, waar die top-20 finaliste optree vir die groot prys, is elke jaar skouspelagtig, met ’n lewendige orkes, agtergrondsangers en soos gewoonlik, ’n bekende gaskunstenaar.
Hierdie jaar is Jaco du Plessis, beter bekend as Jay, voorheen van die groep Eden, die gaskunstenaar waarna almal kan uitsien.
Wat hierdie jaar nog meer spesiaal maak is die feit dat die senior wenner van die kompetisie vir die eerste keer ooit wegry met ’n splinternuwe Kia Picanto, gesamentlik geborg deur Mountain Mill en Kia Paarl.
Dit is sonder twyfel die grootste prys tot nog toe en het die kompetisie weereens na die volgende vlak geneem.
Beide die junior en senior wenners ontvang ook vir die eerste keer ’n kristal-trofee ter waarde van duisende rande, geborg deur Munnik Juweliers, om huis toe te neem.
Daar is ’n kategorie vir beginners, juniors en seniors, en Mountain Mill-winkelsentrum nooi ieder en elk uit om in te skryf vir die kompetisie.
Die beoordelaars is bekende name in die bedryf en sluit hierdie jaar onder andere die legendariese Mynie Grové in.
Die kompetisie groei elke jaar en bied ’n platform vir jong kunstenaars om te wys wat hulle kan doen, en om raakgesien te word deur die publiek en platemaatskappye wat soos oudergewoonte uitgenooi word om die finaal by te woon.
Bel vir Johan Groenewald by 082 772 4658 vir meer inligting.




