Franzel September (37).Foto: Argief

Credit: SYSTEM

Die Springbok-vrouerugbyspan het Franzel September (37) onlangs verwelkom nadat hy verlede Vrydag (28 Julie) amptelik as dié span se afrigter verkies is.

“Die Suid-Afrikaanse rugby-unie het ’n afrigter vir die Springbok-vrouespan gesoek en my genader,” het September gesê.

Volgens hom is dit ’n opwindende hoofstuk wat vir hom voorlê.

Hy sal tot einde 2025 in dié pos aanbly, met ’n plan om sy kontrak te verleng indien dit moontlik is.

Dié kranige rugby-afrigter is in 2022 as die Boland Kavaliers se hoofafrigter aangestel nadat hy vir etlike jare sy rugbyvernuf as hulpafrigter ten toon gestel het.

Kort voor sy bedanking het hy ook die span na die eerste liga van die Curriebeker-reeks gedruk, wat hulle gewen het.

September is uit en uit ’n Bolander en het in Wellington grootgeword, waar hy steeds woon.

Hy het op 12-jarige ouderdom besluit rugby is iets wat sy oë laat glinster en sy hart (letterlik) vinniger laat klop.

Hy het aan die Bergrivier Sekondêre Skool, ook in Wellington, gematrikuleer en daarna ’n naam vir homself in rugbykringe gemaak, waar hy van 2010 tot 2017 as die Boland Kavaliers se losvoorspeler en kaptein uitgedraf het.

Sy speelloopbaan het in 2017 tot ’n einde gekom, waarna September tot 2019 die afrigter van die Wellingtonse Roses United was.

Daarna is hy as hulpafrigter by die Boland Kavaliers aangestel tot 2021 en in 2022 as die hoofafrigter.

Volgens September is dit sy doelwit om eendag die Springbok-mans-rugbyspan af te rig – ’n droom, volgens hom, “waarvoor baie rugbyafrigters mik”.

Dit is ook September se doel om nie net die Springbok-vrouerugbyspan na die 2025-Wêreldbeker te neem nie, maar om ook te wen.

Die span oefen nou vir die Wêreld-15-speler-toernooi waar hulle in die tweede vlak ingedeel is en teen ervare lande soos Skotland en Japan sal speel.

Die toernooi sal in Oktober in Kaapstad plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article