Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het in ’n verklaring gesê dat die drinkwater van die dorpe in die streek weer veilig is om te drink.


Inwoners van die Breedevallei mag nou weer kraanwater drink. Dit volg na daar onlangs ’n waarskuwing deur die plaaslike munisipaliteit uitgereik is.

Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het verlede week in ’n verklaring aangekondig dat kraanwater danksy uitdagings weens beurtkrag eers gekook of behandel sal moet word voor inwoners dit kan drink.

Hierdie verklaring is uitgereik nadat die land erg geraak is weens voortdurende kragonderbrekings.

“Weens Eskom se aankondiging van fase 6-beurtkrag, word ‘n kennisgewing hiermee met onmiddellike effek aan alle dorpe regdeur BVM uitgereik. Soos voorheen gekommunikeer, word water- en afvalwaterbehandelingsbedrywighede nadelig geraak tydens hoër stadiums van beurtkrag,” het woordvoerder van BVM, Hannelie Botha, gesê.

Nou, ’n week later, het Botha in ’n verklaring gesê dat die drinkwater weer veilig is om te nuttig, maar dat dit verder sal afhang van die impak en fases van beurtkrag.

“Na aanleiding van kwaliteitstoetse kan BVM bevestig dat die water veilig is om te drink sonder om dit vooraf te kook. Vir eie gemoedsrus word inwoners egter aangemoedig om steeds vooraf die water te kook. Veral water wat word deur babas, ander kinders, ouer persone en persone met verswakte immuunstelsels gedrink word.”

Sy voeg verder by dat die publiek bewys moet wees dat ’n soortgelyke kennisgewing soos verlede week wel weer ingestel kan word as Vlak 5 en 6 beurtkrag deur Eskom ingestel word.

BVM het ook onlangs waterbesparingsmaatreëls heringestel om die impak op die stelsel te help, aangesien pompe en suiweringsaanlegte op elektrisiteit staatmaak. Hierdie bly onveranderd.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article