Kommer heers landwyd oor die moontlike impak van ’n beplande nasionale staking wat deur die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) beplan word.
Die EFF het al in Januarie vanjaar sy planne bekend gemaak om die land tot stilstand te ruk weens uitdagings met betrekking tot beurtkrag en korrupsie.
Drakenstein-munisipaliteit het ’n skrywe uitgereik en inwoners gevra om waaksaam te wees vir moontlike ontwrigting. Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) meen egter dat aksie nie hier verwag word nie.
“BVM en die verskeie direktorate binne die munisipaliteit het geen amptelike versoek ontvang vir vreedsame protesaksie in die vallei nie. Alhoewel kommer heers rakende dreigemente wat in ander gebiede van die land ontvang word, is wetstoepassers en die verkeersdepartement op gereedheidsvlak vir enige kwessies wat mag opduik. Gesprekke met die plaaslike polisie sal ook gevoer word,” verduidelik Chad Malgas, woordvoerder van BVM aan Standard.



