Plaaslike owerhede is op hul hoede en waarsku weer eens dat motoriste waaksaam moet wees teen slenters wanneer hulle op die N1 reis.

Die De Doorns-polisie het ernstige waarskuwing uitgereik nadat reisigers die afgelope tyd die teiken was van misdadigers wat hulle as druiwesmouse op dié nasionale pad tussen Worcester en De Doorns voordoen.

Standard het al verskeie berigte hieroor geskryf en verslag gedoen oor inwoners en reisigers wat deur hierdie veronderstelde smouse ingeloop word.

Standard was Saterdag 29 April in die De Doorns-area en het bykans 40 onwettige smouse teen die pad teëgekom. Sommiges het daadwerklike pogings aangewend om aandag te trek en sommer voor die motor ingespring of heen-en-weer oor die pad gehardloop.

“Daar is ’n toename in gevalle langs die N1-hoofweg waar motoriste wat stilhou om druiwe te koop, beroof word. Die oesseisoen en parstyd is tans aan die gang. Die druiwe word op nabygeleë plase gesteel en dan verkoop – dikwels aan besoekers langs die snelweg,” sê Dalikhaya Mandelize, die De Doorns-polisie se stasiebevelvoerder.

Die polisie sê motoriste moet hulle daarvan weerhou om dié produkte langs die pad te koop.

Mandelize sê die De Doorns-polisie het ’n toegewyde eenheid wat gereeld patrollies in die gebied uitvoer.

“Die sogenaamde ‘verkopers’ is diegene wat die mense beroof, want die klaers sal vir ons sê terwyl hulle druiwe gekoop het, het die een wat die druiwe verkoop hulle toe beroof. “Hulle beroof motoriste van hul persoonlike besittings, soos beursies, handsakke, selfone, skootrekenaars, ensovoorts.”

Standard het voorheen al berig oor talle voorvalle waarin inwoners of toeriste deur druiweverkopers langs die N1 gedreig en beroof is.

Plaaslike padstalle en winkels waar druiwe op ’n gematigde wyse verkoop word, sê dat hulle skade ly aangesien motoriste onveilig voel om teen die pad af te trek of sommiges reeds druiwe by die smouse gekoop het.

’n Eienaar van ’n plaaslike en bekende padstal in die area wat op voorwaarde van anonimiteit met Standard praat, vertel dat hulle die veiligheid moes opskerp by hul winkel weens verskeie veiligheidsrisiko’s.

“Ons het al mense gehad wat probeer inbreek het by ons om druiwe te steel en dit weer te verkoop. Ons het al groot waarskuwings uitgereik in die streek en dan sal smouse ons sommer kom dreig. Ek praat vandag anoniem, aangesien ek nie verdere situasies wil uitlok nie. Almal ly skade – boere wie se produkte gesteel word, besighede soos ons s’n waar motoriste dalk onveilig mag voel en diegene wat besteel word.”

Die uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, Jannie Strydom, sê verbruikers moet aangemoedig word om plaaswinkels en padstalle te ondersteun omrede hierdie besighede ’n kernrol speel wat die verkoop van vrugte en groente betref.

Hy waarsku ook dat verbruikers nie ongemagtigde verkopers en smouse langs nasionale paaie moet ondersteun nie en dat motoriste hul eie diskresie moet gebruik om vas te stel of ’n plaasstal wettig is of nie.

“Vra vir hul permitte aangesien alle plaasstalle een moet hê om wettig te kan funksioneer.

“Vrugtediefstal is ’n groot probleem. Verbruikers moet hul bes doen om ons boere op ’n wettige wyse te ondersteun,” sê Strydom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article