Die polisie het ’n groot hoeveelheid splinternuwe selfone gevind in die voertuig waarin die verdagtes in die Wolseley-gewapende roof gevlug het.Foto: Verskaf


Die PEP-winkel op Wolseley was vanoggend (29 November) die slagoffer van ’n gewapende roof.

Volgens inligting het die voorval omstreeks 09:30 plaasgevind toe ’n groep gewapende mans die winkel binnegegaan het.

Hulle het te voet gevlug met selfone en ’n onbekende bedrag kontant tot by ’n maroenkleurige Kia wat nie ver van die winkel af op hulle gewag het. Hulle het in die rigting van Bainskloofpas en Wellington gejaag.

Lede van ’n plaaslike plaaswag en polisie het die soektog na die voortvlugtiges dadelik begin en die honde-eenheid was op die Bainskloof-pad op die uitkyk vir die voertuig.

Volgens ’n Wellingtonse polisiewoordvoerder is die voertuig in die pas gesien en ’n jaagtog tussen die verdagtes en die polisie het begin.

Die voortvlugtiges het by ’n Wellingtonse plaas ingedraai waarna hulle uit die motor gespring en te voet probeer vlug het, maar die polisie het vinnig daarin geslaag om hulle vas te trek.

By verdere ondersoek is ’n sak vol nuwe selfone (nog in die verpakkings) en ’n onbekende bedrag geld gevind.

Vyf verdagtes is in hegtenis geneem en na die Wellington polisiestasie se selle geneem.

Onlangs op 20 November het vier gewapende mans ook PEP in Worcester beroof. Niemand is in verband hiermee in hegtenis geneem nie. Maar die polisie ondersoek nou die moontlikheid van ‘n verbintenis tussen hierdie twee voorvalle.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article