De Doorns-polisie het drie mense in verband met ’n gewapende rooftog in hegtenis geneem.
Die voorval het op Donderdag 5 Mei om 13:00 in Bovallei by ’n plaaslike kruidenierswinkel plaasgevind.
“Drie mans het die winkel genader. Twee van die drie het die winkel binnegegaan en gemaak asof hulle klante is. Later het die derde man ook by die winkel ingegaan en een van die ander twee het toe die winkel se deur toegemaak,” verduidelik ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie.
Die mans het toe almal messe uitgeruk.
“Hulle het al drie okapi’s uitgehaal en die eienaar van die winkel begin dreig. Hulle het ook na die eienaar begin steek om hom nog meer te intimideer. Hulle het toe geld uit die kasregister gevat en in ’n rugsak gesit. Hulle het ook sigarette in die rugsak gepak.”
Die diewe is egter deur die winkeleienaar se broer gestop.
“Die broer het daar aangekom en dit vreemd gevind dat die winkel se deur toe was. Toe hy die deur oopmaak, het die drie mans van die toneel af gevlug. Hy het toe die paniekknoppie gedruk.”
Hexvallei Sekuriteit het op die alarm gereageer en die omgewing begin patrolleer.
“Hulle het vinnig op die toneel aangekom en nadat hul beskrywings van die drie mans ontvang het, het hulle begin patrolleer.
“Hulle het toe die mans ’n entjie weg voorgekeer en terug na die winkel geneem. Die eienaar het hulle uitgeken.
“Die rugsak met die geld en sigarette is ook teruggekry deur Hexvallei Sekuriteit.”
Die drie mans het Maandag 9 Mei in die hof verskyn en word aangehou tot hul volgende verskyning.




