Vyf wynkelders in die Breedekloof/Worcester- en Robertson-streek het as SA kampioene by die onlangse Nasionale Jongwynskou wat Vrydag (22 Augustus) op Robertson aangekondig is, weggestap.
Die 2025 Suid-Afrikaanse Jongwynskou het vanjaar ‘n oesjaar van besonderse gehalte gevier, met kelders van regoor die land wat hul merk gemaak het. Altesaam 1387 inskrywings is deur 88 beoordelaars oor vyf dae geëvalueer, met 52 klaswenners en 131 goue medaljes wat toegeken is.
Die agt deelnemende wynstreke is Robertson, Worcester/Breedekloof, Stellenbosch, Paarl, Oranje-Vaal, Olifantsrivier, Swartland en Klein Karoo. Individuele inskrywings van buite hierdie streke word ook aangemoedig.
Die Paarl-wynstreek het die meeste trofeë (ses) huis toe geneem, gevolg deur die streke van Breedekloof/Worcester en Stellenbosch (vier elk), en Robertson, Klein-Karoo en ‘n individuele inskrywing met een elk.
Die aand het aan La Motte wynlandgoed in Franschhoek behoort, wat die gesogte Genl. Smuts Trofee verower het vir ‘n uitstaande Sémillon. Dit is die eerste keer in die landgoed se geskiedenis en slegs die tweede keer in meer as drie dekades dat ‘n Sémillon dié hoogste eer wegdra.
KWV het wéér sy plek as ‘n reus in die bedryf bevestig deur die Pietman Hugo-trofee te ontvang vir die hoogste totale punte oor vyf wyne. Hiérdie wyn- en spiritualieëprodusent in Suid-Afrika het ook die trofee in 2015 ontvang.
Die kelder het boonop drie nasionale kampioentrofeë ontvang, naamlik vir Sauvignon Blanc, Chardonnay (op hout), en ‘n Cabernet Sauvignon/Malbec/Petit Verdot-versnit (op hout). KWV se wenportefeulje is verder verryk deur klasoorwinnings in Malbec en Cabernet Franc, asook 18 goue medaljes.
Nog twee produsente het besonder sterk vertoon met Vergenoegd Löw Wynlandgoed wat die Kampioen Cabernet Sauvignon (op hout) sowel as die Kampioen Oesjaar Kaapse Styl gewen het, terwyl Botha Kelder die Kampioen Ander Rooi Kultivar met Ruby Cabernet (op hout), Kampioen Rooi Versnit en Kampioen Dessertwyn met Hanepoot Jerepigo ingepalm het.

Volgens Johan Linde van Botha Kelder is uitgesoekte druiwe gebruik vir bereiding van al drie hul kampioenwyne.
“Michiel Visser, ons rooiwynmaker, het ‘n Cabernet Sauvignon/Merlot/Ruby Cabernet/Cinsaut versny. Hierdie kultivars het mekaar uitstekend aangevul en komplimenteer om ‘n komplekse wyn met sagte taniene te lewer.
“Vir die gehoute Ruby Cabernet het ons gebruik gemaak van uitgesoekte vate en houtstawe wat oor jare beproef is om die gewenste balans tussen hout en vrug te lewer. Die Kampioen-dessertwyn is gemaak van volryp hanepootdruiwe om uiteindelik hierdie komplekse, gefortifiseerde soetwyn te kon oplewer,” het hy gesê.
Twee van hierdie kampioene was ook as nasionale kampioene gekroon (Ander Rooi en Dessertwyn).
Volgens Christo Pienaar, voorsitter van die SA Jongwynskou, weerspieël vanjaar se uitslae die uitmuntende klimaatsomstandighede van die oesjaar: “Die jongwyne het pragtige geurprofiele en die rooi variëteite toon besonder diep kleure en balans. Verbruikers kan uitsien na wyne van wêreldgehalte wanneer hierdie oesjaar in die mark verskyn.”
Die skou, wat in Robertson se The Venue aangebied is, is die oudste van sy soort ter wêreld en bly ‘n anker vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
‘n Hoogtepunt vir die wenners van die Genl Smuts- en Pietman Hugo-trofeë is dat hulle, danksy ‘n borgskap van Porex, ‘n internasionale studiereis van ses dae kan meemaak.


Die ander wynkelders wat SA Kampioentrofeë in hul onderskeie klasse gewen het, was:
Spier Wines – Chenin Blanc (gehout)
Robertson Winery – Colombar (gehout)
Badsberg Cellar – Chenin Blanc/Chardonnay (wit versnit)
Perdeberg Wines – Natural Sweet White (gehout)
Groot Phesantekraal – NLH (gehout)
Diemersdal – Shiraz (gehout)
Wellington Wines – Pinotage (gehout)
Montagu Winery – Merlot
Aan de Doorns Winery – Rooi Muskadel Jerepigo






You must be logged in to post a comment.