Die Laingsburg-diensstasie is meer as net ’n gewone vulstasie. Dit is vir menige Laingsburgers ’n plek van samekoms.
Dit is hier waar die plaaslike inwoners hul maandelikse staatstoelae trek by die OTM-fasiliteite. Hier kry hulle ook sommer hul medisyne, wat per geleentheid met die polisie, ambulans of verkeersbeamptes vanaf Touwsrivier kom.
Hier word menige mens se koerierpakkie afgelaai en iemand in die winkel teken sommer daarvoor. Almal hier ken mekaar en die vulstasie dien sommer ook as afsetpunt vir omliggende plase.
Dit is ook die plek om na toe te kom vir ’n vinnige wegneemete soos vis en tjips of net ’n worsrolletjie en koeldrank, dit alles terwyl jy sommer lekker met die plaaslike mense klets.



