Renaldo Fredericks van die Parkfit-boksklub in Worcester het sy opponent reg in die oë gekyk en die houe het behoorlik geval. Foto’s: JP Myburg


Plaaslike boksers het Saterdag 19 November hul staal in die bokskryt tydens die Worcester-bokstoernooi by die Maranatha kerk in Worcester gewys.

Die Power Punch, ’n organisasie sonder winsbejag, se Worcester-bokstoernooi is een van talle toernooie wat in die streek aangebied word en fokus op bewusmaking en geldinsameling vir projekte wat die organiseerders na aan die hart lê.

“Ons bied die soort geleenthede vir ons gemeenskappe, bevorder ster-atlete, hef die gemeenskap deur verskeie projekte op en help skole met geldinsameling. Daarbenewens bied ons ondersteuning aan vroeëkinderontwikkelingsprogramme deur hand aan hand saam met plaaslike skole te werk om verandering te bring.

“Verder bied ons ook toernooie, oefenkampe en besoekerstoere in ons streke aan.

“Laaste, maar nie die minste nie, word al die bogenoemde vrywillig gedoen en dit word moontlik gemaak deur die hulp van ons borge en skenkers,” sê die organiseerder, Roscoe Pekeur, aan Standard.

Die afgelope naweek se toernooi het juis op outisme gefokus.

Die Bonnievale-outisme-sorgsentrum (Boss) is ’n tehuis vir volwasse jong mans wat op die outisme-spektrum is en bied hulle ’n huis waar hulle versorg en gestimuleer word en sodoende hul volle potensiaal kan bereik.

“Ons is baie dankbaar vir ons borge en sonder hul ondersteuning sou ons nie hierdie projekte kan aanbied nie.”

Saterdag het 20 plaaslike boksers aan die toernooi in verskeie kategorieë deelgeneem en elk hul deel vir liefdadigheid gedoen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article